MunicipalNews

Miljoene vir erwe, maar waar is die huise?

Inwoners van die Koppewaai-nedersetting buite Bela-Bela is warm onder die kraag oor bewerings dat daar heelwat minder behuising in dié omgewing beskikbaar sal wees as wat glo aan hulle voorgehou is.

Daar is aanvanklik beoog om ongeveer 1 000 nuwe huise in die Koppewaai- en Spa Park-omgewing op te rig.

Die Behuisingsontwikkelingsagentskap (HDA) het Erf 1491 tien jaar gelede deur middel van die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) bekom en aangedui hulle beoog om 1 063 huise daar te bou en aan begunstigdes toe te ken.

Die ruwe rotsformasies op dié terrein het glo egter dié beoogde projek in die voet geskiet.

Protesaksies het in 2017 in die omgewing voorgekom nadat die owerhede aangedui het dat die hoeveelheid beoogde huise van 1 063 na 500 en toe na slegs 250 verminder gaan word. Inwoners was die afgelope week woedend nadat gerugte die ronde begin doen het dat slegs 82 huise gebou gaan word.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

’n Gemeenskapsvergadering is op Woensdag 23 September in Spa Park gehou. Die Pos was op uitnodiging teenwoordig.

Gemeenskapslede het hul misnoeë uitgespreek teenoor Buthi Maname, ANC-wyksraadslid, wat inwoners nie op hoogte gehou het oor die vordering van die projek nie en ook versuim het om openbare vergaderings met inwoners te hou.

Beskuldigings is geopper dat die ANC die huise aan begunstigdes van hul eie keuse wil toeken. Maname was nie by die vergadering teenwoordig nie. Inwoners het op antwoorde aangedring en gedreig om stappe teen die munisipaliteit te neem as die toekenning van die huise nie regverdig gedoen word nie.

Volgens Tinus Ras, DA-raadslid, is ’n boodskap die volgende dag wyd op sosiale media versprei dat die ontwikkeling vir eers op die ys geplaas word nadat Coghtsa aangedui het dat hy eers meer inligting oor dié behuisingsprojek wil inwin.

Ras het gesê hy vind dié optrede uiters verdag en dat die DA besig is met ’n ondersoek oor die situasie in Spa Park. Nkau Lerotholi, HDA-woordvoerder, het by navraag gesê sover sy kennis strek moet daar steeds 250 huise op die grond gebou word.

“Ons het reeds die dorpstigtingproses afgehandel en tydelike basiese dienste is in die omgewing verskaf. Die begunstigderegister moet wel opgedateer word en die bou van die nuwe huise berus op Coghsta. Dit bly egter die munisipaliteit se verantwoordelikheid om die toekenning van die huise te behartig.”

Lerotholi het gesê daar is by hom geen twyfel dat dié betrokke stuk grond die wettige eiendom van die HDA is nie. Volgens die algemene waardasierol van die munisipaliteit, waarvan Die Pos ’n afskrif het, het Erf 1491 egter ’n bykomende eienaar, naamlik die SBNP Family Trust.

Steve Bosch, sakeman van Polokwane, is onder andere deel van dié trust en besit ook Erf 1492 langs Erf 1491, waar daar tans onwettig geplak word. Ingevolge ’n bykomende aktedokument wat Die Pos onder oë gehad het, blyk dit dat Erf 1491 aan die HDA én die SBNP Family Trust behoort.

Dokumente toon dat die koopbedrag van HDA se gedeelte destyds ongeveer R65 miljoen beloop het en die SBNP Family Trust het nagenoeg R47 miljoen betaal vir hul gedeelte.

Die stuk grond is ongeveer 72 ha groot. Die Pos het navrae aan die munisipaliteit gestuur oor die transaksies en ook die aantal huise wat gebou gaan word, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

  • Die onwettige oprigting van sinkhuise het destyds op Erf 1492 begin en van daar af uitgebrei. Hoewel ’n hofbevel bekom is om plakkers van Erf 1492 te verwyder, is dit nie uitgevoer nie.

    Die munisipaliteit het versuim om op te tree en aangevoer dat die onwettige grondgryp op privaat grond plaasgevind het en dit die eienaar se verantwoordelikheid is om die plakkers te vewyder. Kenners en politici meen egter dat elke ontwikkeling die munisipaliteit se goedkeuring moet dra — selfs informele ontwikkelings op privaat grond.

    Die munisipaliteit het wel vanjaar, danksy druk van die DA, ’n hofinterdik bekom om onwettige plakkers van Gedeelte 25 (’n stuk munisipale grond suid van Erf 1492), aangrensend aan die Tuin Tuiste-aftreeoord, te verwyder.

    Inwoners rig tans ’n heining op eie koste op om verdere besetting tot teenaan die woonbuurt te stuit. Kommer bestaan egter steeds dat die groot behuisingsnood in Bela-Bela onwettige grondgrype elders in die omgewing kan aanwakker.


    Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button