MunicipalNews

Bela-Bela-inwoners moet hoes vir nuwe tariewe

Die begroting wat Die Pos nou onder oë gehad het, toon nietemin dat Bela-Bela-inwoners hulle te midde van ’n sukkelende ekonomie moet staal vir aansienlike stygings in munisipale dienste.

Die Pos het uiteindelik — ná baie oproepe, navrae en verskeie besoeke aan die munisipale-kantore — ’n afskrif van die Bela-Bela-munisipaliteit se begroting vir die 2020/2021-boekjaar bekom.

Die begroting moes reeds op Woensdag 1 Julie in werking getree het. Die begroting is nie deur die munisipaliteit se kommunikasie-afdeling aan die media beskikbaar gestel nie, maar deur ’n administratiewe amptenaar wat gewillig was om die inligting te verskaf.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Geen formele openbare deelnameproses kon weens die Covid-19-veiligheidsmaatreëls in die maande voor die goedkeuring plaasgevind het nie. Munisipale amptenare was ook vir lang tye tydens die grendeltydperk nie beskikbaar nie en talle departemente se wiele het teen ’n slakkepas beweeg.

Raadsvergaderings is virtueel aangebied en nie vir die media of publiek oopgestel nie; dus het openbare deelname nie plaasgevind nie. Die begroting wat Die Pos nou onder oë gehad het, toon nietemin dat Bela-Bela-inwoners hulle te midde van ’n sukkelende ekonomie moet staal vir aansienlike stygings in munisipale dienste.

Eiendomsbelasting styg met 4,6%. Eienaars ontvang R50 000-kor- ting op die munisipalewaarde van hul eiendom, met ’n bykomende 10%-korting. Geregistreerde hulpbehoewendes hoef geen eiendomsbelasting te betaal nie. Bona fide-boere kry 55% afslag op hul eiendomsbelasting en plase wat slegs vir behuising gebruik word, kry ’n korting van 30% op eiendomsbelasting en R50 000-vrywaring op munisipale waarde van eiendom. Pensioentrekkers en gestremdes kry 30% korting op hul eiendomsbelasting.

Vullisverwydering styg met 4,6%, maar hulpbehoewendes ontvang hierdie diens gratis. Sanitasieheffings styg ook met 4,6%. Waterheffings styg met 12% en die glyskaal — hoe meer water mense gebruik hoe hoër die heffing — is steeds in werking.

Geregistreerde hulpbehoewendes ontvang 6 kliter gratis water per maand. Die vaste tarief om ’n watermeter by wonings, kerke, skole en hospitale te installeer is R82 per maand. Sakepersele, regeringsinstansies, hotelle, gastehuise en lodges sal R127,85 per meter betaal. Die elektrisiteitsheffing sal met 8,1% styg.

Hulpbehoewendes ontvang 50 kWh gratis elektrisiteit per maand. Die tarief per krageenheid vir huishoudings het van R1,69 tot R1,79 gestyg. Die bykomende heffings — basies, kapasiteit en verbruik — geld vir sakeondernemings en regeringsinstansies (R65,36; R17,93; R1,55 per k Wh) en plase (R196,09; R17,93; R1,55 per kWh).

Industriële heffings vir laevoltverbruik is R1 515,11 (basies), R186,28 (kapasiteit) en R1,33 per kWh (verbruik). Die basiese heffing vir hoëvoltverbruikers is R3 589,81. Die prys van grafte in die munisipale begraafplaas sal ook met 4,6% styg. * Die munisipaliteit se webtuiste was teen druktyd vandeesweek steeds van lyn af.


Baie dankie aan Waltkon Vleis sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button