MunicipalNews

Donker wolke hang in die lug terwyl Mookgophong-stortingsterrein brand

“Ons kan nie behoorlik asemhaal nie. Ons neuse en kele brand van die rook.”

Inwoners van Mookgophong was verbaas toe hulle op Donderdag 2 Julie ’n digte wolkbank oor die dorp gesien hang het.

Dit was egter nie vars oggendmis nie, maar toksiese rook wat vanaf die stortingsterrein, digby die dorp, oor die dorp gewaai het. Die stortingsterrein, wat oorvol is, is na bewering met opset die vorige aand aan die brand gesteek.

Philip van Staden, voorsitter van die AfriForum-tak in Mookgophong, het aan Die Pos gesê die gesondheidsgevare wat ontstaan weens die inaseming van hierdie toksiese lug, kan die Covid-19-virus vastrapplek gee. Sommige inwoners in Gholfpark, wat langs die stortingsterrein geleë is, het op verskeie sosiale groepe hul misnoeë uitgespreek oor die brand. Talle asmalyers was ook bekommerd oor die inaseming van die rook en die uitwerking daarvan op hul welstand.

Die stank van die digte rook het tot op Vrydag 3 Julie oor die dorp gehang.

“Ons kan sedert 04:00 nie behoorlik asemhaal nie. Ons neuse en kele brand van die rook. Die hele stortingsterrein se vullis brand en die munisipaliteit stoot die hope met ’n voorlaaigraaf oop. Die plek brand nog steeds en sal nog vir ’n paar dae bly smeul,” het een ontstoke inwoner gesê.

Volgens Van Staden slaap daar mense onwettig in ’n geboutjie op die terrein en die vermoede bestaan dat hulle die brand veroorsaak het.

Burgemeester Marlene van Staden het by navraag gesê brandstigting word vermoed en die saak word ondersoek.

Die VF-Plus en AfriForum het reeds verskeie kere gekla oor die toestand van die dorp se stortingsterrein.

Related Articles

Back to top button