MunicipalNews

Stygings in munisipale heffings sal gemeenskap pootjie

Bela-Bela-inwoners, wat reeds gebuk gaan onder ongekende ekonomiese druk, is baie bekommerd oor die moontlikheid van bykomende stygings in munisipale heffings.

Die nuwe boekjaar begin eersdaags en hoewel daar glo verskeie verhogings in tariewe beoog word, is die begroting nog nie goedgekeur nie.

Talle inwoners het na verneem word nie hul munisipale verpligtinge tydens die grendeltydperk nagekom nie weens ’n verlies aan inkomste wat tot gevolg gehad het dat die munisipale skuldlas groter geword het.

Die munisipaliteit se koffers sien al geruime tyd nie rooskleurig daar uit nie, omdat hulle miljoene rande se skuld het wat onder meer spruit uit agterstallige rekeninge, wanbetalings en kontrakteursfooie wat uitstaande is.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het by navraag gesê daar was vanjaar geen sprake van openbare deelname-vergaderings in aanloop tot die munisipale begroting nie.

“Die proses was vanjaar baie deurmekaar. Gegewe die situasie waarin die gemeenskap en inwoners weens die Covid-19-pandemie gedompel is, sal enige verhogings in tariewe wat nie met inflasie tred hou nie, doodeenvoudig ’n verdere uitbuiting van die gemeenskap wees.”

Die benarde finansiële posisie van die munisipaliteit spruit uit die verlede se swak munisipale bestuur, het hy gesê.

Mills het gesê die BBTF poog sedert verlede jaar om die munisipaliteit te help om hul geldelike posisie te verbeter, maar skuld bly ophoop.

“Die munisipaliteit sou die top 30 skuldenaars weens agterstallige belastings en heffings dagvaar, maar niks het daarvan gekom nie. Hierdie agterstallige skuld wissel van ’n paar honderdduisend rand tot R20 miljoen rand.”

Volgens hom kan die Royal Northland-gholflandgoed, wat al vir jare onbenut staan, tot voordeel vir die dorp omskep word.

“Ons verneem die eienaars is reeds R11 miljoen agterstallig aan belasting. Die BBTF het die munisipaliteit genader met die voorstel dat hulle die uitstaande belasting moet opeis. Die munisipaliteit kon die geld invorder óf die grond weer terug in hul bateregister kry, maar ook hiervan het dadels gekom,” het Mills gesê.

“Dit is ’n skande dat daar ná ons vertoë van die afgelope vier jaar nog geen spesiale tarief vir sakeondernemings, skole, hospitale, weeshuise en tuistes vir bejaardes ingestel is nie. Die munisipaliteit buit hierdie mense steeds uit deur ’n bloktariewe-stelsel.”

Tinus Ras, DA-raadslid, het gesê die gewysigde begroting moet einde Junie deur die munisipale raad goedgekeur word, maar hy is bekommerd dat die munisipaliteit finansieel slegter daaraan toe gaan wees en daar groter uitdagings wag.

Die nuwe boekjaar begin op Woensdag 1 Julie. Die mediumtermyn-begroting is intussen ter insae op die munisipaliteit se webwerf beskikbaar.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit kan nie in dié stadium veel oor die begroting sê nie, maar dit sal waarskynlik teen Vrydag 26 Junie tydens die amptelike raadsvergadering bespreek en moontlik goedgekeur word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button