MunicipalNews

Kapsie teen verhogings

Die AfriForum- tak in Mookgophong was ondanks die grendeltyd baie bedrywig.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van die tak, was AfriForum baie bekommerd oor die voorgestelde verhoogde tariewe vir elektrisiteit, watervoorsiening en dienste soos deur die plaaslike munisipaliteit in die beoogde begroting aangedui is.

Die konsepbegroting tree op Woensdag 1 Julie 2020 in werking vir die belastingjaar wat op 30 Junie 2021 eindig.

“Die nasionale tesourie se inflasie-vooruitskatting vir die boekjaar is 4,9%. Dit moet dus die maatstaf wees waarteen die munisipaliteit tariewe verhoog, maar die voorgestelde tariefverhogings was baie hoër. Die verhogings wat voorgehou is, is 5,2% vir grondbelasting, 15% vir elektrisiteit (Nersa het slegs 6,24% goedgekeur), 12,38% vir water, 7,5% vir riool en 7,5% vir vullisverwydering,” het Van Staden aan Die Pos gesê.

AfriForum het hul ontevredenheid in ’n skrywe aan Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, hieroor uitgespreek. “Dit is verblydend dat die voorgestelde tariewe ná ons skrywe aangepas is na slegs 6% vir elektrisiteit en water en 4,5% vir die ander dienste,” het Van Staden gesê.

Die munisipaliteit se uitgawes is tydens ’n kragverbruikersvergadering in Februarie 2020 bespreek. Een voorstel wat op dié vergadering gemaak is, is dat die outomatiese hersluiterstelsel op kraglyne weer geïnstalleer word wat die betaling van oortyd sal verminder. Tans moet ’n elektrisiën tot 18 km ry om na ’n fout te soek indien daar ’n onderbreking is. Die hersluiterstelsel beperk die kragtoevoer slegs op die lyn waar die fout voorkom.

Volgens Van Staden het AfriForum hulle ook uitgespreek teen die verhoging van 6,25% op raadslede se toelaes. Hulle voorstel is dat die personeelstelsel hersien moet word aangesien daar met die samesmelting van die munisipaliteite van Modimolle en Mookgophong talle poste gedupliseer is, wat die salarisrekening onnodig opstoot.

“Verbruikers se skuld beloop R327 miljoen en krediteure R980 miljoen. Dié syfer lyk vir ons twyfelagtig. Hoe kan die invordering van R327 miljoen se skuld aan die einde van die boekjaar in 2021 as R582 miljoen aangedui word? Dit lyk hoegenaamd nie haalbaar nie,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button