MunicipalNews

Lisensiekantoor se dienste beperk

Die verkeersafdeling in Van der Merwestraat in Bela-Bela het toe nie soos beplan en aangekondig op Maandag 1 Junie geopen nie.

Die afdeling het eers op Vrydag 5 Junie sake hervat — vier dae nadat verteenwoordigers van die provinsiale departement van verkeer die perseel goedgekeur het om weer lede van die publiek ná die grendeltydperk te ontvang. Alle dienste kan egter steeds nie verskaf word nie.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê toe die personeel vir die eerste keer ná die grendeltydperk vir werk opgedaag het, is hulle oorval deur opgehoopte werk en moes heelwat administratiewe sake eers afgehandel word.

Volgens hom sal die verkeersafdeling tot verdere kennisgewing slegs van 08:00 tot 14:00 gedurende weeksdae oop wees vir aansoeke of navrae.

Die enigste dienste wat tans by dié afdelings gelewer kan word, is aansoeke vir voertuie wat van eienaar verwissel het, registrasies en voertuiglisensiehernuwings, hernuwingsaansoeke vir professionele bestuurderspermitte, hernuwing van rybewyse, aansoeke vir tydelike permitte en tydelike lisensies.

Die departement raai kliënte aan om die korrekte sosiale afstande en higiëniese maatreëls te volg wanneer hulle die perseel besoek. Mosito het gesê die gebou word daagliks ont-
smet.

Related Articles

Back to top button