MunicipalNews

Rioolprobleme in Bospoort (Bela-Bela) onder die vergrootglas

Rioolprobleme in Bospoort in die Bela-Bela-omgewing het inwoners van dié buurt warm onder die kraag.

Die Pos kry gereeld klagtes oor die rioolaansluiting waar Flamboyantstraat en Bospoort-landbouhoewes grens. Inwoners kla die afvoerpype bly verstop raak en rou riool vloei dan by die oop mangate uit en straat-af. Dit hou nie net ’n gesondheidsgevaar in nie, maar die stank is ook onuithoudbaar.

Die Pos het vroeër berig munisipale werkers het die verstopte pype met ’n suigapparaat skoon gesuig, maar die inhoud straat-af laat vloei tot in ’n nabygeleë vleigebied. Die rioolsubstasie in dié omgewing is toegegroei met riete en bosse en is dus ontoeganklik vir voertuie.

Die beweerde swak dienslewering in Bela-Bela is ’n gereelde onderwerp van bespreking op raadsvergaderings.

Die Pos het die afgelope week gaan kers opsteek by die Vryheidsfront Plus (VF-Plus) nadat ’n raadslid van ’n Vrystaatse dorp, Desmond Reed, ’n klag by die polisie gaan lê het oor riool wat reeds etlike jare in ’n veld in die Wesselsbron-omgewing uitgepomp word.

In ’n onlangse VF-Plus-verklaring word gesê die munisipale bestuur van dié dorp het besluit om riool tydelik in die veld uit te pomp terwyl daar planne beraam word om ’n foutiewe pompstasie te herstel. Dit duur egter al drie jaar.

Reed het daarna ’n klag teen die munisipale bestuurder gelê in terme van die nasionale omgewingsbestuurswet. Hy het ook sy kommer uitgespreek dat die riool die grondwater kan besoedel.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF-Plus, het Bela-Bela op Vrydag 6 Maart besoek en ook ’n draai by die rioolaanleg in Bospoort gemaak.

Sy het gesê indien daar bevind word dat die riool in ’n vleigebied uitgepomp word, sal die saak aan die Menseregtekommissie (MRK), asook die Groen Skerpioene-ondersoekspan, gerapporteer word.
Maritz sê die party het reeds suksesse in Modimolle, Mookgophong en Thabazimbi behaal waar die MRK betrek is om rioolbesoedeling en stortingsterreine te ondersoek.

“Ons sal die nodige druk toepas sodat die probleme in Bela-Bela spoedig opgelos word,” het Maritz gesê.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het teen druktyd geen terugvoer op navrae gegee nie.

  • Daar word ook die afgelope tyd gereeld probleme in die omgewing van die Bosveld Mall ondervind met rioolafvoerpype wat oorloop en ’n onaangename reuk afgee. Die mangate wat oorloop is direk langs die taxi-staanplek en mense wat van openbare vervoer gebruik maak, word voortdurend daaraan blootgestel.

Marnus Luüs, sentrumbestuurder, het by navraag gesê die sentrum is besig om alternatiewe noodmaatreëls in werking te stel. Die munisipaliteit reageer nie op hul dringende versoeke om gebarste waterpype en rioolverstoppings te herstel nie, het hy gesê.

Planne word intussen beraam om die drinkwaterstelsel by die Bosveld Mall op te gradeer en om langtermyn oplossings te bespreek.

“Dit is vir die sentrum en inwoners ’n kopseer wanneer pype bars kort nadat daar instandhoudingswerk gedoen is. Ek moet egter in alle eerlikheid sê dat die munisipale werkers wat op ons terrein werk altyd bereid is om te help. Hulle gee hul bes en is altyd vriendelik,” het Luüs gesê.

Related Articles

Back to top button