MunicipalNews

Water is te vuil vir bad, sê inwoners

Bruin kraanwater wat na “dam” ruik het talle inwoners in Modimolle boos.

Foto’s van gevlekte klere en ’n bad met bruin water is deur ontstigte mense op sosiale media versprei wat sê dat hulle nie kan wasgoed was of bad as die water só vuil is nie. Van die klaers het gesê hulle koop water aan sodat hulle kan bad. Hulle was ook bekommerd dat iemand kan siek word van die water.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, was ontsteld om van die water se toestand te verneem.

“Inwoners moet klagtes soos dié so spoedig moontlik deur die regte kanale aanmeld sodat ons kan werk maak van die probleem,” het sy gesê.

“As dit slegs op sosiale media geplaas word, weet ek nie altyd daarvan nie en kan die probleem nie dadelik aangespreek word nie.”

Woonbuurte wat deur die probleem geraak is, is die middedorp, Phagameng en Uitbreidings 5-12.

Die modderkleur van die water word glo veroorsaak omdat die opgaardamme se watervlakke laag is. Dit is omdat die Sondela-pompstasie wat deur Magalies Water bestuur word, buite werking is omdat die pompe uitermatig baie water lek, het Van Staden gesê.

“Magalies Water pomp nou weer soos vantevore slegs met een waterpomp vanaf die Klipdrift-waterwerke en dit veroorsaak lae watervoorrade omdat ons net 2 000 kl per dag ontvang.”

’n Waterpyp van 160 mm wat water vanaf die boorgate by Drie Hekke pomp, het ook gebars en dit beïnvloed die waterverskaffing met sowat 1 500 kl per dag.

Die watersuiweringswerke by die Donkerpoortdam kon ook nie genoeg flokkulant toedien nie omdat die waterpompe nie reg werk nie.

’n Waterrantsoeneringskedule is aan inwoners gestuur. Volgens die skedule behoort Bosveldsig en die boonste gedeelte van die dorp, asook die middedorp, Maraphong en Uitbreiding 10 elke tweede dag water te kry. Die ander dele van die dorp kry elke derde dag water. Die inwoners in Uitbreiding 12 en 13 sal deur vragmotors met watertenks van water voorsien word.

Related Articles

Back to top button