MunicipalNews

Sakelui sê ekonomie het hul in wurggreep

Sakeondernemings in Modimolle het tydens die Waterberg-sakekamer se eerste byeenkoms van die jaar gehoor dat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit ondernemings in hierdie gebied glo nie volgens wetlike voorskrifte belas nie.

Gebou-eienaars het onlangs kennisgewings ontvang dat die munisipaliteit voortaan net een elektrisiteitsverskaffingspunt per geregistreerde standplaas sal installeer. Die eienaars, wat dikwels verskeie kleiner winkels verhuur, sal self die elektrisiteitskoste by huurders moet verhaal. Luidens die kennisgewing wat aan eienaars gestuur is, blyk dit dat dié besluit op grond van ’n verkeerde verordening geneem is, het Gerhardt Breytenbach, ’n plaaslike prokureur op Donderdag 6 Februarie verduidelik.

Breytenbach, wat gereeld met munisipale aangeleenthede werk, het gesê ondernemings betaal al jare lank dubbel die ratio-tarief wat teen wooneiendomme gehef word. Volgens hom blyk dit dat hierdie gebruik in stryd met munisipale wetgewing is, wat bepaal dat nie-residensiële eiendomme se belasting nie teen ’n hoër ratio as wooneiendomme gehef mag word nie.

“Die Johannesburgse stadsraad het dieselfde gedoen en die saak het in die appèlhof geëindig. Die 2012-uitspraak het bevestig dat dit onwettig is om belasting op nie-residensiële eiendomme teen ’n hoër ratio as wooneiendomme te hef. Ondernemings se eiendomme word in die algemeen hoër gewaardeer en word dus reeds hoër belas,” het hy gesê.

Hy het gesê die appèlhof het voorts aangedui dat munisipaliteite verplig is om tydens die begrotingsproses die invloed van tariefverhogings in rand en sent aan die publiek deur te gee en dat die blote publisering van tariewe of tariefformules nie voldoende is nie.

Vir talle gebou-eienaars wat winkels in hul gebou uitverhuur, is die enkele verskaffingspunt vir elektrisiteit ’n probleem. Volgens Breytenbach is dié besluit ook teenstrydig met die munisipale verordening op skuldinvorderings geneem en hang daar ’n groot vraagteken oor die munisipaliteit se bevoegdheid om diensverskaffingsooreenkomste eensydig te beëindig.

Breytenbach se voorstel is dat sakelui wat hierdeur geraak word, dit moet oorweeg om ’n gesamentlike dispuut met die munisipaliteit te verklaar. “Wanneer belasting te hoog is, maak die wet daarvoor voorsiening dat inwoners kan appelleer. Dit kan op hersiening geneem word na die minister toe,” het hy gesê.

Hy het benadruk dat inwoners in hul onderskeie wyke sal moet groepeer en aktief aan die jaarlikse begrotingsprosesse deelneem. “Daar is ’n opvatting by plaaslike owerhede dat sekere groepe in gemeenskappe vir belastings gemelk kan word, wat nie volhoubaar is nie en net verder tot die ekonomiese agteruitgang van dorpe lei. Hierdie gemeenskappe het daarom ’n plig om hul belange te beskerm.”

Sakelui het tydens die vergadering beaam dat die tariewe en belastings hulle in ’n wurggreep beet het en dat ondernemings wat hul deure sluit,’n groot invloed op die gemeenskap het.

Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag aan Die Pos gesê: “Die besluit om slegs een elektrisiteitsmeter per erf toe te laat is in 2019 deur die munisipaliteit geneem. Die doel was om seker te maak dat die onus steeds op die eienaar van die eiendom rus om die hele elektrisiteitsrekening te vereffen.

“Elke eienaar is welkom om steeds voorafbetaalde kragmeters by die aparte eiendomme te laat installeer en die meters se aankope kan dan op die hoofrekening gekrediteer word.

“Wat betref die ratio wat op nie-residensiële eiendomme gehef word, verskil ons vertolking van die wet. Al ratio wat die wet voorskryf is op wooneiendomme teenoor landbou (1: 0,25) en die munisipaliteit voldoen reeds hieraan. Die ander ratio’s tussen ondernemings en wooneenhede is nie vasgestel nie. Die munisipaliteit het in die 2018/2019-boekjaar geen verhoging in eiendomsbelasting gehad nie. In die 2019/2020 jaar het ons ’n 6% verhoging gehad. Vir die 2020/2021-boekjaar beplan ons ’n baie klein verhoging, indien enige, om die invloed van die waardasierol aan te spreek.

“Die munisipaliteit is ook tans besig om ons beleid op eiendomstariewe te hersien en gaan ’n hele paar drastiese veranderinge daaraan maak. Die Waterberg-sakekamer het ’n groot invloed op die soort veranderinge wat aangebring gaan word. Ons sal ander voorstelle ook oorweeg.

“Enige voorstelle moet eersdaags ingedien word sodat dit gedurende openbare deelname vergaderings bespreek kan word. Inwoners moet asseblief munisipale vergaderings bywoon,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button