CarsNews

Gaan bande na voor lang reis

Voertuie se bande móét nagegaan word voordat ’n mens die lang pad aanpak.

Vir eers moet die groewe in die bande se loopvlak minstens 1 mm diep oor die hele loopvlak wees. Dit is ’n wetlik voorgeskrewe minimum.

Die groewe verplaas water en verhinder dat ’n voertuig op ’n nat pad buite beheer raak. Heelwat ongelukke in reënweer kan dan ook aan gladde bande toegeskryf word.

As bande tekens van oneweredige slytasie toon, moet die wielsporing en skokbrekers nagegaan word. Laat ook nuwe bande installeer anders mors jy net jou geld.

Wanneer ’n band vervang word, moet ’n nuwe binnebandlose klep ook ingesit word. Sorg dat elke band ’n klepdoppie het, want dit hou vog en vuilheid uit.

Moet nooit gewone motorbande aan ’n minibus of bakkie sit nie, al pas dit ook. Gewone bande is nie gemaak om die gewig van ’n vol minibus of bakkie te dra nie.

Die heel belangrikste is korrekte banddruk.

Die aanbevole banddruk verskyn in die voertuig se handboek of vra jou motorhandelaar. In baie voertuie word hoër druk vir vol vragte en hoë snelhede aanbeveel.

Gaan dus die banddruk na voordat jy vertrek. Doen dit terwyl die bande koud is. Namate hulle warmer word, verhoog die druk. Moet nooit ’n warm band afblaas as die druk hoër as die aanbevole druk is nie. Wanneer die band afkoel, sal die banddruk na normaal terugkeer.

Onthou ook om ’n noodwiel, domkrag en die nodige gereedskap saam te neem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button