MunicipalNews

Lunaweg hopelik vanjaar herstel

Sakelui en die Warmbad Rusoord word veral deur die toestand van die pad geraak omdat besoekers en ambulanse dié straat gebruik.

Lunaweg in Bela-Bela is al vir meer as ’n jaar ’n nagmerrie vir motorryers met al hoe meer slaggate wat hulle moet vermy.

Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag gesê hy het die opgradering van Lunaweg reeds in die vorige boekjaar onder die aandag van die munisipale raad gebring, maar die munisipaliteit het dit nie op die lys vir beoogde projekte geplaas nie.

Inwoners kla by Die Pos dat die munisipaliteit die koste aangaan om spoedhobbels regoor die dorp op te rig, maar niks daaraan doen om Lunaweg te herstel nie.

Sakelui en die Warmbad Rusoord word veral deur die toestand van die pad geraak omdat besoekers en ambulanse dié straat gebruik, het Ras gesê.

Die munisipaliteit het intussen die kleiner slaggate met teer gevul, maar van die slaggate het al só groot geword dat dit bykans die helfte van die pad beslaan.

“Ons het weer dié saak as dringend vir die munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) se nuwe boekjaar geoormerk. Die gate kan nie meer net gevul word nie; die hele padoppervlak sal oorgedoen moet word,” het Ras gesê.

“Sake wat dringende aandag nodig het kan nog tot einde Januarie aan die GOP-komitee gerig word en ek raai inwoners aan om deel te neem aan die GOP-vergaderings wat later plaasvind.”

Ras het gesê hy hoop werklik dat die munisipale raad Lunaweg se opgradering as belangrik sal beskou en nie net op opgradering in ander wyke sal fokus nie.

Indien die pad herbou word, sal dit deur ’n regeringstoelaag befonds word. Die spoedhobbels se koste is deur die instandhoudingsbegroting van die munisipaliteit self gedra, het hy gesê.
Ras het gesê daar is ook aansoeke gedoen om spoedhobbels in Flamboyant-, Reitz- en Swanepoelstraat op te rig.

Die Pos het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, om kommentaar genader, maar hy het teen druktyd geen terugvoer gegee nie.

Related Articles

Back to top button