MunicipalNews

Inwoners is moedeloos oor rioolprobleem

“Die suiweringswerke is heeltemal te klein om voldoende te funksioneer” - Afriforum

Daar blyk geen einde te wees aan die stinkende rioolprobleme wat Mookgophong sedert 2010 teister nie.

Radelose inwoners het die Vryheidsfront Plus genader omdat hulle glo nie hulp van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit kry nie.

Die party het op Donderdag 21 November ’n aanklag teen die munisipaliteit by die menseregtekommissie (MRK) ingedien oor rioolwater wat uit ’n woonbuurt van Mookgophong in Sektor 1 vloei.

Dr. Ilene Carter van die kommissie het op Dinsdag 19 November die probleemgebiede saam met Marcelle Maritz, die Vryheidsfront Plus se provinsiale leier en verteenwoordiger in die provinsiale wetgewer, en Philip van Staden, voorsitter van AfriForum in Mookgophong, besoek. Die Vryheidsfront Plus is deur ’n groep boere gevra om die gebied te besoek, het Maritz gesê. Volgens haar kon die munisipaliteit nie die klaers help nie.

Gert Niewenhuisen, wat langs die probleemgebied boer, het volgens Van Staden reeds voorheen ’n saak van besoedeling by die polisie aanhangig gemaak. Die situasie het egter aanhou versleg en AfriForum het in Junie 2014 ’n klag van besoedeling teen die destydse munisipale bestuurder by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gelê. Die NVG het die dossier glo dieselfde dag ontvang, maar volgens Van Staden het die speurder gesê die saak het steeds nie op die rol verskyn nie.

’n Mensgemaakte “vleiland” van rioolwater lê in die gebied tussen Uitbreiding 6 en Grootvalley, reg langs die teerpad, oorkant die nuwe HOP-huise. Volgens Van Staden lê die riool sowat 50 cm diep.

Die stank en om die kinders uit die rioolwater te hou, is van die inwoners se grootste kopsere.

Net ’n entjie verder het rou riool by huise uitgeloop in ’n sloot in. Die sloot is glo deur boere gegrawe om die riool uit hul plase te hou.

Tydens ’n besoek aan die nuwe riool-pompstasie het rou riool uitgeborrel en met dieselfde sloot al langs die pad gestroom.

Van Staden voel die besoedeling is só erg dat die munisipaliteit die regering se hulp moet inroep.

“Die suiweringswerke is heeltemal te klein om voldoende te funksioneer. AfriForum se omgewingsafdeling sal dringend aandag hieraan moet gee,” het hy gesê.

Hope riool wat uit die damme by die rioolwerke gehaal is, het op die terrein gelê.

Volgens Maritz het die MRK haar party verseker dat hulle terugvoer sal gee wanneer die saak ondersoek is en hulle met die munisipaliteit geskakel het. Sy het gesê haar party sal die probleem dophou.

Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag gesê dat sy onder die indruk was dat die probleem reeds opgelos is. Sy het gesê dat sy nog geen klagtes van die MRK ontvang het nie, maar dadelik sal optree sodra sy dit kry.

Volgens die burgemeester het die munisipaliteit R4 miljoen begroot vir die opgradering van die rioolwerke.

Related Articles

Back to top button