MunicipalNews

Nuwe toepassing vir elektrisiteit

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het inwoners die afgelope week genooi om ’n nuwe selfoontoepassing af te laai om hul elektrisiteitsverbruik te meet.

Die toepassing, genaamd NetMeter, poog om die munisipaliteit se dienslewering wat elektrisiteitsmeting en rekeninge betref, te verbeter. Inwoners het ook vandeesmaand twee aparte rekeninge ontvang: een vir hul elektrisiteitsverbruik wat in ’n nuwe rekening inbetaal moet word en ’n ander rekening vir munisipale dienste.

Die skeiding van rekeninge is een van die stappe wat gedoen is om te verseker dat Eskom gereeld betaal word sodat die kragverskaffer nie weer dreig om die elektrisiteitstoevoer na die dorpe in die munisipaliteit te beperk nie.

Nadat die toepassing, wat gratis is op Google Play, afgelaai is, kan inwoners inteken met die letters “MM” en hul rekeningnommer wat op die nuwe rekeninge verskyn, byvoorbeeld MM1234567. Die geheime kode is die selfoonnommer waarop die meter geregistreer is.

Die toepassing “praat” met die munisipaliteit se finansiële stelsel, het Marlene van Staden, burgemeester, aan Die Pos verduidelik. Die lesings wat ingelees is, maar nog nie deur die munisipaliteit se stelsel ontvang is nie, sal onder “Send” op die toepassing verskyn. Wanneer dit gestuur is, verskyn dit onder “Done”. Volgens Van Staden sal die watermeters later ook op die toepassing gelaai word.

Die volgende stap is om die korrekte meter te kies en die huidige meterlesing in te tik. Dan word ’n foto van die meter geneem en aangestuur via die toepassing.

Die munisipaliteit se skuld aan Eskom beloop sowat R500 miljoen, het Van Staden bevestig.

“Ons betaal nou elke Vrydag ’n bedrag aan Eskom. Daar was reeds betalings gemaak op 4, 11, 18 en 25 Oktober,” het Van Staden gesȇ.

Related Articles

Back to top button