MunicipalNews

Diep kommer oor munisipaliteit se geldsake

Die geldsake van die Bela-Bela-munisipaliteit is iets om oor kop te krap.

Tinus Ras, DA-raadslid en lid van die finansiële komitee, het in ’n onderhoud aan Die Pos gesê inwoners moet weet wat in die munisipaliteit se geldkoffers aangaan.

Die Pos het onlangs breedvoerig berig oor die geldelike knou wat die munispaliteit gekry het nadat hulle verskeie kere bloedneus in die hof gekry het in die saak teen ’n voormalige diensverskaffer, Dikala Plant Hire CC.

Volgens Ras kan die bedrag wat dié hofsaak die munisipaliteit gaan kos, by die R80 miljoen beloop.

“Dit is kommerwekkend dat die bedrag wat verskuldig word nie op die lys van munisipale krediteure aangetoon word nie. Sulke uitgawes is veronderstel om op die finansiële komitee-verslag aangedui te word,” het Ras gesê.

Ras het gesê hy is diep bekommerd oor die invloed wat dié groot uitgawe op inwoners sal hê. Boonop is slegs 65% van dienstegeld die afgelope drie maande ingevorder terwyl dit gewoonlik by die 95% is, het Ras gesê.

Volgens Ras dra Wyk 1 se inwoners (die dorpgedeelte en sakeondernemings) omtrent 80% tot die dorp se inkomste by.

“Die munisipale debiteurerekening het tussen 2017 en 2019 bykans verdubbel weens geld wat nie ingevorder is nie. Bykans R57 miljoen is nie ingevorder nie.” Ras blameer hoofsaaklik die voormalige munisipale bestuur vir dié groot agterstand.

Daar word gereeld gekla oor die instandhouding van die dorp se infrastruktuur wat nie na wense is nie, maar die munisipaliteit het einde September slegs 1% (ongeveer R220 000) op instandhouding bestee, het Ras gesê.

Altesame 39% van die hele munisipale operasionele begroting word op munisipale werkers se salarisse bestee, maar die reuse-onproduktiwiteit onder werkers is lankal reeds ’n bron van kommer, meen Ras.

“Onwettige kragtoevoeraansluitings, waterlekkasies, mense wat versuim om vir dienste te betaal en skuld wat afgeskryf word, dra grootliks tot die skuld by” het Ras gesê.

“Die dorp se Eskom-rekening beloop tans ongeveer R45 miljoen en Magalies Water se rekening beloop R6 miljoen.

“Sake het onder die huidige munisipale bestuur aansienlik verbeter omdat hulle ’n nuwe werkswyse en rekeningkundige beleid toegepas het. Die munisipaliteit se geldsake bly egter beroerd en die munisipale krediteure (slegs die tien grootstes) staan reeds op R60 miljoen.”

Die Pos het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder vir kommentaar gevra, maar teen druktyd het hy nog nie terugvoer gegee nie.

Ras het ’n versoek gerig dat inwoners hul dienstegeld moet betaal en dat die mense wat dit nie betaal nie, se dienste opgeskort moet word.

Related Articles

Back to top button