CarsNews

O, om ’n nuwe voertuig te hê …

Gereelde bloot­stelling aan iets maak ’n mens metter­tyd só gewoond daaraan dat jy jou later as ’n kenner kan beskou.

Ek is ’n kenner op die gebied van “jeu­kerig­heid”. Ek is al soveel keer deur hierdie lus vir motor­koop oor­val dat ek ’n rede­like vlak van immu­niteit ont­wikkel het. My weer­stand is nou al van so ’n aard dat ek my ou bakkie lief­ge­kry het.

Wanneer daar ’n nuwe voer­tuig, en veral ’n bakkie, op die werf pronk, is die eienaar ge­woon­lik effens jam­mer vir die nuwe ry­ding. Ek self het eenmaal, op dieselfde dag dat ek ’n nuwe bakkie gekry het, ’n na­week­weg­breek met die ou een aange­pak. Die rede hoekom ek nie met my spog­nuwe vuur­wa gery het nie, was dat ek bang was daar skiet dalk ’n klip op wat my nuwe ryding ver­niel. Al daardie kilo­meters op ’n nat pad sou ook nie som­mer so op die eerste na­week vir my nuwe “baba” deug nie.

En sê nou maar net die wer­kers trap die verf van die agter­klap af? Of die vrag skuur in die bak rond? Die voor­ruit kry dalk skade, of behoede my as iemand dalk arge­loos ’n merk met ’n winkel­trollie teen die bak­werk laat.

Ek het al gehoor van iemand se oom wat die gewoonte het om, wanneer hy ’n nuwe bakkie koop, sommer so in die ver­koops­lokaal, terwyl die strikke nog op die enjin­kap lê, die nuwe sleutel by die verkoops­man te neem en ’n krap in die nuwe bakkie se verf te maak. Sy argu­ment is: Dan het hy nie nodig om heel­tyd op sy hoede te wees vir wan­neer die bakkie sy eerste krap gaan kry nie — hy het mos nou klaar ’n krap­merk!

My bakkie raak nou oud en dit is eintlik ’n lekker gevoel. Die gevoel wanneer die ergste jammer­geit nou oor is. Nie dat ek hom graag verniel nie, maar as hy ’n bietjie in die son staan, is ek nie dik­bek nie. As die grondpad baie erg is, wil ek nie huil nie en as ek ’n nuwe kra­pmerk raak­sien, vra ek nie kwo­tasies op nuwe bakkies aan nie.

Om ’n bakkie te hê wat gebruik word vir die doel waar­voor hy aan­vank­lik gebou is, hou daardie jeu­kerig­heid ’n bietjie in toom. Ek geniet sy volle diens­baar­heid met krappe en al.

Related Articles

Back to top button