MunicipalNews

Daar was geen ooreenkoms

Die vraag op inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se lippe die afgelope week was: wanneer word iemand in hegtenis geneem?

Dit volg ná aanbevelings in ’n forensiese verslag deur die nasionale tesourie dat diegene wat skuldig is aan finansiële wanadministrasie, krimineel vervolg moet word.

Teen druktyd op Dinsdag 17 September is daar nog geen klagtes by die polisie aanhangig gemaak nie.

Die verslag is op Vrydag 6 September ter tafel gelȇ en die raad het die aanbevelings aanvaar. Die ondersoek het gevolg nadat daar verskeie bewerings van ongerymdhede was met die aanstelling van
diensverskaffers.

Daar is aanbeveel dat dissiplinȇr opgetree word teen twee voormalige hoof-finansiële beamptes en dat kriminele klagtes gelê word teen Ombali Sebola, voormalige munisipale bestuurder, en CigiCell, ’n maatskappy wat die verkope van voorafbetaalde krag hanteer en gebreekte meters te herstel, asook teen Legodi Prokureurs.

Sebola, CigiCell en Legodi Prokureurs is genader om kommentaar. Slegs CigiCell het gereageer op die verslag se aantyging dat hulle 10% kommissie van verkope afgetrek het pleks van die 5,5% waarop ooreengekom is.

Volgens Nicola White, die maatskappy se woordvoerder, is ’n oop tender in 2015 aan CigiCell toegeken met ‘n kommissiestruktuur van 10%. “Contour, die vorige diensverskaffer het die munisipaliteit hof toe geneem om die toekenning van die kontrak aan CigiCell teen te staan. Die hof het in Augustus 2017 in die guns van Contour beslis en die munisipaliteit beveel om die tender aan CigiCell ter syde te stel en dit binne ’n maand te herbeding.

“CigiCell het vanaf Augustus tot Desember 2017 steeds dienste op ’n maand-tot-maand grondslag gelewer. Die munisipaliteit het in Desember 2017 gevra om CigiCell weer aan te stel in terme van regulasies op die bestuur van die munisipale verskaffingsketting en voort te gaan met hul dienslewering. CigiCell is weer formeel aangestel, onderworpe aan ’n diensvlakooreenkoms,” het White gesê.

“Voor die ondertekening van die ooreenkoms, wat veronderstel was om die kommissie op die nuutooreengekomde vlak van 5,5% in te sluit, is ons dienste op ’n maand-tot-maand grondslag gelewer, wat in lyn is met die ou kontrak. Die munisipaliteit het egter nooit die nuwe diensvlakooreenkoms met CigiCell aangegaan nie. Die munisipaliteit en CigiCell stem saam dat ’n nuwe ooreenkoms nooit onderteken is nie. Daarom is daar nooit formeel ooreengekom op die 5,5%-kommissiestruktuur nie. CigiCell se dienste het op ’n maand-tot-maand grondslag voortgegaan volgens die ouer kontrak,” het sy gesê.

White het gesê dat CigiCell op Donderdag 29 Augustus ’n brief van die munisipaliteit se prokureurs ontvang het wat hul kennis gee dat ’n nuwe diensverskaffer aangestel is wat vanaf 1 Oktober sal oorneem.

Related Articles

Back to top button