MunicipalNews

Munisipale skuld nou glo aansienlik meer ná hofsaak

Die Bela-Bela-munisipaliteit kou spreekwoordelik naels nadat twee hofuitsprake hulle gelas het om miljoene rand se agterstallige skuld aan ’n voormalige diensverskaffer, Dikala Plant Hire CC, te betaal.

’n Tender is in 2014 aan Dikala toegeken om ’n nuwe munisipale voertuigvloot aan die munisipaliteit te verskaf.

Die kontrak het R36 550 998 oor drie jaar beloop, maar is skielik gestop ná bewerings van ongerymdhede en geskille tussen die betrokke partye.

Dikala het die munisipaliteit daarna gedagvaar vir die uitstaande skuld.

Die hooggeregshof het in November 2016 beslis dat die munisipaliteit uitstaande skuld van R8 673 359,88 aan Dikala moet betaal teen 9% rente per jaar totdat die finale bedrag afgelos is.

Die hof het verlof tot appèl aan die munisipaliteit toegestaan, maar die munisipaliteit het dié saak in Junie vanjaar met koste verloor.

Hoewel die presiese bedrag nog nie deur die munisipaliteit bevestig is nie, word dit op ongeveer R70 miljoen geraam, het Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum, aan Die Pos (BBTF) gesê.

’n Munisipale finansiële komiteevergadering is op Dinsdag 10 September by die munisipaliteit gehou om onder meer die Dikala-saak te bespreek.

Die Pos en Mills wou die vergadering bywoon, maar Henriëtta Ledwaba, ANC-hoofsweep, het gelas dat die publiek weggewys word omdat die saak onder bespreking “sensitief” was. Munisipale wetgewing maak daarvoor voorsiening dat die media en publiek in sekere uitsonderlike gevalle toegang tot vergaderings geweier kan word.

Mills het in reaksie gesê raadslede mislei die publiek en skep die indruk dat die finale bedrag wat aan Dikala verskuldig is, baie minder is as wat dit in werklikheid is.

“Die olifant in die vertrek, wat niemand noem nie, is dat die aantal voertuie in die ooreenkoms reeds in Desember 2015 uitgebrei is met nóg 10 voertuie. Volgens die KPMG-forensiese verslag van 2016 het die munisipale raad in Maart 2015 ’n resolusie aanvaar om die kontrak ten gunste van Dikala Plant Hire te wysig,” het Mills gesê.

Die Pos verneem dat onderhandelings tussen die munisipaliteit en Dikala steeds aan die gang is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button