MunicipalNews

Dorpe hou asem op toe Eskom wéér dreig

“Ek glo Eskom tree in kwade trou op aangesien ons besig is om met hulle te onderhandel.”

Eskom het verlede week inwoners in die dorpe Modimolle, Mookgophong en Vaalwater na hul asems laat snak toe daar onverwags ’n kennisgewing dat die krag afgesny gaan word in Die Pos gepubliseer is.

Luidens die kennisgewing skuld die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit die kragverskaffer meer as R400 miljoen. Die uitstaande bedrag in Junie verlede jaar, toe Eskom ook gedreig het om die kragtoevoer af te sny, was R250 miljoen.

’n Hofbevel wat krediteure verhoed om vir 90 dae stappe teen die munisipaliteit te doen, het verlede jaar so hittete gekeer dat dié dorpe in die donker sit. Die munisipaliteit het slegs ’n dag voordat Eskom die kragtoevoer drasties sou begin inperk, ’n kennisgewing ontvang dat Eskom nie sou voortgaan met sy plan nie.

Dit was veral sakeondernemings wat benoud was oor hoe die kragonderbrekings hul sake sou beïnvloed. Die Waterberg-sakekamer het dieselfde week ook in die hof verskyn om te verhoed dat Eskom hul dreigement deurvoer.

Marlene van Staden, burgemeester, het gesê dat hulle verbaas is oor die nuutste stap van Eskom. “Die hooggeregshof het’n interdik aan die munisipaliteit toegestaan wat ons krediteure verhoed om enige stappe te doen totdat die hof uitspraak gelewer het op ons aansoek in terme van artikel 153(1)(b) van die Wet op Munisipale Finansies 56 van 2003 (MFMA).

“Met dié aansoek vra die munisipaliteit die hooggeregshof om die munisipaliteit se finansiële verpligtinge op te hef totdat die munisipaliteit in ’n posisie is om sy verpligtinge na te kom,” het sy gesê. Eskom is as respondent gelys en het nie die aansoek teengestaan nie.

“Ek glo Eskom tree in kwade trou op aangesien ons besig is om met hulle te onderhandel.

“Ons het op Donderdag 8 Augustus ’n voorstel aan hulle gestuur vir toekomstige betalings uit ’n aparte rekening en vir ’n toekomstige betaling wat ’n groot deel van ons skuld sal delg,” het sy gesê.

Volgens Van Staden het die munisipaliteit reeds verskeie stappe gedoen om hul finansiële toestand te verbeter, soos die implementering van ’n finansiële herstelplan wat in November verlede jaar deur die provinsiale regering goedgekeur is, asook die aanstel van die maatskappy EMS Rural om die inkomste uit elektrisiteitsverdienste te verbeter. Verder is goedkeuring verleen vir ’n aparte bankrekening waarin inkomste van elektrisiteitsverkope geplaas kan word en waaruit Eskom betaal sal word, asook vir die goedkeuring van die verkoop van munisipale bates wat nie noodsaaklik is vir dienslewering nie om fondse te genereer vir skulddelging. “Ons het reeds met ons regsverteenwoordigers vergader en sal inwoners op hoogte hou van ons aksieplan,” het sy gesê.

Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer, het gesê dat hulle voortgaan met die aansoek wat hulle reeds in Junie verlede jaar gebring het.

“Ons twyfel egter of Eskom sal voortgaan met die afsny van die krag,” het hy gesê. Met hul aansoek hoop hulle om die tesourie te dwing om in te gryp in die munisipaliteit se geldsake. “Dit kan veroorsaak dat die raad ontbind word. Die probleem met beroepspolitici is dat hulle hul inkomste verloor indien die raad ontbind word en dit lei tot verkeerde besluite,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button