MunicipalNews

Oproeriges steek landbougrond aan die brand

“Dinge loop nie mooi hier in Alma nie.”

Woedende betogers het die afgelope week die pad deur Alma met brandende bande versper en hul misnoeë met hul verkose raadslid te kenne gegee deur haar huis en ’n munisipale gebou af te brand.

Boere in die omgewing het na verneem word duisende hektaar landbougrond verloor nadat plase aangrensend aan Alma vermoedelik op verskeie plekke aan die brand gesteek is.

Inwoners het reeds verlede week hul ongelukkigheid teenoor hul raadslid, Grace Mashitishu, begin duidelik maak.

Gemoedere het gekalmeer, maar weer op Maandag 12 Augustus opgevlam. Inwoners het die toegangsroete deur die dorp met klippe en brandende bande versper.

Polisielede van Modimolle, Rankinspas, asook die polisiëringseenheid vir openbare orde (Pops), was op Dinsdag 13 Augustus op die toneel om die situasie te moniteer. Veiligheidsgroepe en boere van die omgewing was hard aan die spook om die veldbrande onder beheer te kry. Volgens bronne op die toneel het verskeie brande uitgebreek, maar kon dit geblus word. ’n Brand in die rigting van Loubad het egter handuit geruk en die Working on Fire-span van Bela-Bela het hulp met hul helikopter verleen.

Die brande was teen druktyd op Woensdag 14 Augustus geblus en die toestand in Alma kalm, het veiligheidsgroepe aangemeld.

Volgens een van die ontstoke inwoners, wat anoniem wou bly, wil hulle nie meer vir Mashitishu as raadslid hê nie. Van hul klagtes is dat dienslewering nie na wense is nie. Die man beweer dat 100 huise wat vir Alma geoormerk was, in Vaalwater opgerig is en dat die aanstellingsproses vir werkers wat deur die munisipaliteit aangestel en deur die departement van openbare werke betaal word, nie regverdig toegepas word nie.

Die gemeenskap het volgens hom daarop aangedring dat Mashitishu, asook Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, hulle kom toespreek.

“Dinge loop nie mooi hier in Alma nie,” het hy gesê.

Mashitishu het Dinsdagmiddag aan Die Pos gesê dit is nie vir haar veilig om Alma toe te gaan nie. Haar huis is dieselfde aand afgebrand. “Daar is niks wat gered kon word nie,” het sy gesê.

Mashitishu het vroeër gesê sy is nie bewus van huise wat vir Alma geoormerk is nie en dat die proses nie deur haar hanteer word nie. Wat die aanstelling van die betrokke werkers betref, sê sy dat die raad in Maart 2017 ’n mosie aanvaar het wat bepaal dat die aanstellings op grond van lyste van kandidate wat deur elke party voorgelê word, sal geskied. Al vier partyswepe en die wyksraadslid sal dan vergader en aanstellings sal volgens elke party se kandidate vir die poste gemaak word.

Sy beweer dat sy nie in hierdie proses geken is met die onlangse aanstellings nie.

“Ek word ondermyn in sake in my eie wyk,” het sy gesê.

Die uitslag van die die munsipale verkiesing in 2016 in wyk 2, wat Alma en 24 Riviere insluit, was kop-aan-kop met Mashitishu (ANC) wat 39,98 % van die stemme verwerf het, Dingaan Motshwene (DA) wat 38,89 % verwerf het en Ramasela Chauke (EFF) met 13,10% stemme. Motshwene is tans die speaker van die Modimolle-Mookgophongraad.

’n Bydraende faktor tot die gemeenskap se frustrasie is dat hulle al ’n jaar lank geen selfoonsein het nie nadat ’n Telkom-mas verlede jaar gedurende ’n storm omgewaai het. Vodacom, Cell C, sowel as MTN, het van dié toring gebruik gemaak en kan sedertdien nie hul dienste aan inwoners lewer nie. Volgens Motshwene het die munisipaliteit gratis WiFi in die munisipale gebou op die dorp ingerig om die gemeenskap te help.

Volgens ander inwoners in die omgewing word almal deur dié probleem geraak. Boere op plase, van hulle reeds bejaard, is afgesny van die buitewêreld en kan nie in tye van nood hulp ontbied nie. Brandbestryding word ook bemoeilik omdat mense nie met mekaar kan kommunikeer nie. Die hele Alma-vallei word glo hierdeur geraak.

“Vodacom het aangedui dat hulle besig is om ’n selfoonmas in die Shambala-reservaat op te rig en daarna een in Alma sal oprig. Dit sal egter vyf maande neem om te voltooi. Die munisipaliteit het reeds MTN se versoek vir die oprigting van ’n selfoonmas goedgekeur. Dit sal die hele Alma-gebied dek,” het Motshwene gesê.

Van Staden het by navraag gesê sy het verlede week met inwoners in Alma vergader en dat hulle daarna kalm voorgekom het. Van Staden, Motshwene en partyswepe Hercules Louw (DA), Rufus Mahoro (ANC) en Bravo Monyela (EFF) het die dorp ook Dinsdagmiddag laat besoek om met die inwoners te praat.

Related Articles

Back to top button