MunicipalNews

Munisipaliteit moet miljoene opdok ná hofsaak

Die Bela-Bela-munisipaliteit het vandeesweek bloedneus in die hooggeregshof gekry in ’n saak wat dié munisipaliteit miljoene rande — waarvoor hulle glo glad nie begroot het nie — sal kos.

Die appèlaansoek van die munisipaliteit spruit uit ’n hooggeregshofsaak waarin die munisipaliteit aangesê is om miljoene rande se uitstaande skuld aan ’n voormalige diensverskaffer, Dikala Plant Hire CC, te betaal.

Die Pos is in besit van die nuutste hof-uitspraak, asook die aanvanklike uitspraak.

’n Tender is in 2014 aan Dikala toegeken om ’n nuwe munisipale voertuigvloot aan die munisipaliteit te verskaf.

Die kontrak het R36 550 998 beloop, maar is skielik gestaak nadat daar bewerings van ongerymdhede en geskille tussen die partye opgeduik het.

Die kontrak is aanvanklik aan Dikala en nog ’n diensteverskaffer, Balimi Barui Trading (BBT) toegeken. BBT sou volgens die jongste uitspraak slegs ’n administratiewe rol in die proses gespeel het. Dikala het BBT daarvan beskuldig dat BBT-verteenwoordigers probeer optree het asof hulle ’n aandeel in die diensleweringsooreenkoms gehad het. Die munisipaliteit het toe destyds weens dié geskil alle betalings aan Dikala gestaak.

Dikala het die munisipaliteit destyds hooggeregshof toe gesleep weens uitstaande skuld.

Die hof het in November 2016 uitspraak gelewer dat die munisipaliteit die uitstaande skuld van R8 673 359,88 aan Dikala moet betaal teen 9% rente per jaar totdat die finale bedrag betaal is.

Die munisipaliteit het egter teen dié saak geappèlleer, waarna die hof die munisipaliteit verlof tot appèl toegestaan het. Die munisipaliteit het probeer bewys dat hulle by magte was om die kontrak wettig te kanselleer. BBT is ook verlof tot appèl toegestaan om te bewys dat die samewerkingsooreenkoms tussen hulle en Dikala steeds van krag was.

Die hof het egter anders bevind.

Regter PD Kekana het in sy finale uitspraak van die appèlsaak gesê dat die munisipaliteit se aansoek met koste van die hand gewys word en dat die munisipaliteit Dikala se regskoste ook moet betaal. Daar is bevind dat die kontrak buite die ooreenkoms gekanselleer is. Die munisipaliteit moet ook nou Dikala se skuld vereffen.

Wat BBT betref het die hof bevind dat die samewerkingsooreenkoms met Dikala wel beëindig is. Die hof het BBT se appèlaansoek ook met koste van die hand gewys.

Tinus Ras, DA-raadslid, het die finale uitspraak as ’n groot terugslag vir Bela-Bela beskryf.

“Die munisipaliteit het nie voorsiening gemaak om dié skuld te vereffen nie. Die finale skuldbedrag word op ongeveer R12 miljoen beraam,” het hy gesê.

Volgens hom kan dié uitspraak die dorp se dienslewering negatief raak.

“Die kanse is goed dat die munisipaliteit nou sal fokus op inwoners en ondernemings wat geld aan die munisipaliteit skuld en hulle sal dwing om agterstallige skuld te vereffen om vir die koste van die uitspraak op te maak.”

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit wag op die regsverteenwoordigers van Dikala voordat ’n finale bedrag bepaal en stappe gedoen kan word.
“Die munisipaliteit sal eers kommentaar kan lewer ná ’n vergadering met Dikala,” het hy gesê.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het in reaksie aan Die Pos gesê hy meen die bedrag is aansienlik meer as R12 miljoen en dat die BBTF dié verwikkeling baie fyn sal dophou.

Related Articles

Back to top button