MunicipalNews

Frustrasies hoog oor lisensiekantoor

Die gevoel van frustrasie onder inwoners van Bela-Bela oor die swak of geen dienslewering by die dorp se lisensiekantoor het breekpunt bereik.

Die Pos skryf al maande lank oor die onvermoë van dié kantoor om bestuurslisensies uit te reik.

In ’n brief wat verlede week in Die Pos se brieweblad verskyn het, beskryf ’n inwoner sy uitgerekte frustrasies by dié kantoor in detail. Hy skryf onder meer in die brief dat die onvermoë van die personeel hom laat lus voel om “soos Simson van die Bybel die plek se pilare om hom in te trek.”

Dié brief het ’n stortvloed van klagtes op Die Pos se Facebook-blad tot gevolg gehad. Talle lesers het laat weet dat hulle dieselfde magtelose woede by die lisensiekantoor ervaar.

Lesers kla dat hulle meer as ’n jaar gelede vir hernuwing van lisensies aansoek gedoen het, maar dit nie ontvang nie ondanks verskeie besoeke aan die kantoor.

Mense kla ook oor die absolute vermorsing van tyd en die lang rye. Daar het dadels gekom van die navraelyn wat ingestel sou word en nommers wat deur die munisipaliteit aan Die Pos beskikbaar gemaak is vir publikasie om die lang rye te voorkom, bly buite werking.

Die vertraging het al verlede jaar begin toe werkers by die Driving Licensing Card Account-afdeling (DLCA) gestaak het. Die DLCA is daarvoor verantwoordelik om lisensieaansoeke te hanteer en die lisensiekaarte te druk en terug te stuur na die betrokke verkeersafdelings.

Die staking is egter reeds in Desember verby, maar die Bela-Bela-munisipaliteit kry nie die agterstand ingehaal nie.

Daar is by navraag aan Die Pos gesê daar is ’n gebrek aan personeel by die verkeersafdeling in Bela-Bela en dat hulle sukkel om die groot hoeveelheid lisensies te hanteer.

Navrae aan die verkeersafdeling word telkens verwys na die munisipaliteit, maar Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, kon in weke nog geen navrae hieroor aan Die Pos verskaf nie.

Sover vasgestel kan word is daar ’n besluit geneem om meer personeel by die verkeersafdeling beskikbaar te stel om die lisensieaansoeke te hanteer. Daar is verder sprake van ’n sentrale selfoonnommer wat geskakel kan word vir lisensienavrae, maar die nommer is nog nie in werking nie.

’n Moedelose inwoner het die afgelope week aan Die Pos gesê hierdie “traak-my-nie-agtige-houdings” is besig om die dorp se vooruitgang te kelder.

Related Articles

Back to top button