MunicipalNews

Beswaar teen eiendomstariewe ingedien

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se voorlopige beleid op eiendomstariewe is nie wettig nie, sê die Waterberg Sakekamer in ’n beswaar wat vandeesweek by die munisipaliteit ingedien is.

’n Kennisgewing vir die openbare deelname proses vir die hef van eiendomstariewe is op Vrydag 21 Junie in Die Pos geadverteer. Volgens die kennisgewing is die beleid vir die 2019/2020-boekjaar vir ’n tydperk van 30 dae ter insae beskikbaar. Die gemeenskap word genooi om kommentaar op die beleid te lewer. Die kennisgewing is slegs nege dae voor die nuwe boekjaar begin, gepubliseer.

Volgens die sakekamer vereis die wet op munisipale finansiële bestuur egter dat die tariewebeleid saam met die munisipale begroting goedgekeur moet word en dat die burgemeester die jaarlikse begroting minstens 90 dae voor die begin van die nuwe boekjaar moet voorlê. “Dit is duidelik dat die voorlopige beleid op eiendomstariewe vir die 2019/2020-boekjaar veronderstel was om saam met die 2019/2020-begroting (minstens 90 dae voor 1 Julie 2019, met ander woorde in Maart 2019 of aan die begin van April 2019) voorgelê moes word,” lui die beswaar. Die twee prosesse kan volgens hulle nie apart gesien word nie. Volgens die sakekemaner was die openbare deelname proses “kunsmatig” en onwettig gedoen.

Daar is ook beswaar gelug omdat kleinhoewes as residensiële eiendom gekategoriseer is. Die sakekamer meen dat eiendomsbelasting gebruik moet word om strate en sypaadjies te onderhou, vir beligting, die afvoer van stormwater, parke en ontspanningsgeriewe. Die inwoners van kleinhoewes het nie een van dié voorregte nie.

Die sakekamer het gevra dat die munisipaliteit binne 14 dae ’n geskrewe onderneming gee dat die beleid nie geïmplementeer word nie. Hulle stel voor dat ’n nuwe beleid vir eiendomstariewe vir die volgende boekjaar oorweeg word en die proses dan ’n behoorlike openbare deelname proses insluit.

Marlene van Staden, burgemeester, het aan Die Pos gesê die openbare deelname proses vir die beleid is wel korrek gedoen. “Dit het deel gevorm van die meer as 14 vergaderings wat ons met die gemeenskap gehad het vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan. ’n Verdere vier verteenwoordigervergaderings is ook gehou.

“Die beleid vir eiendomstariewe is tydens ’n vergadering op Vrydag 29 Maart ter tafel gelê. Ek het in Mei met ’n verteenwoordiger van die sakekamer vergader omdat daar ’n dispuut oor die landbouwoonhuis kategorie was. Dié kategorie maak voorsiening vir inwoners wat op plase bly maar dit nie vir boerdery gebruik nie — dit geld veral vir mense in landgoedontwikkelinge waar dit uitsluitlik woonerwe is, hoewel dit nie in die dorp geleë is nie,” het sy gesê.

“Ons het ooreengekom dat ons ’n bykomende openbare deelname proses sal hê — vandaar die advertensie wat op Vrydag 21 Junie verskyn het. Daar sal egter nie in hierdie boekjaar ’n landbouresidensiële tarief gehef word nie,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button