MunicipalNews

Munisipaliteit sê nuwe rekenaars sal dienslewering verbeter

Die gehalte van diens aan inwoners het ’n hupstoot gekry nadat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit 10 nuwe rekenaars gekoop het.

Die ou rekenaars, wat reeds voor 2012 gekoop is, was nie meer doeltreffend nie, het Marlene van Staden, burgemeester, aan Die Pos gesê. Dít het dienslewering aan kliënte beïnvloed. “Die nuutste sagteware is reeds gelaai en die personeel het opleiding ontvang,” het sy gesê.

Die munisipale kantoor in Modimolle het twee rekenaars elk ontvang vir navrae, kassiere, datavaslegging en stadsbeplanning terwyl Vaalwater een vir kliëntediens en een vir die kassiere ontvang het.

“Ons glo dat hierdie uitgawe nie net ’n positiewe uitwerking op die invordering van inkomste sal hê nie, maar ook korter wagtye vir inwoners beteken wanneer hulle die munisipaliteit besoek,” het sy gesê. Die ou rekenaars sal steeds deur amptenare gebruik word en moontlik voor die einde van die jaar per openbare veiling verkoop word.

  • Die munisipaliteit se rekenaarstelsel was sedert einde Junie vir meer as ’n week buite werking. Dit het tot groot frustrasie vir veral eiendomsagente, prokureurs en inwoners gelei wat nie toegang tot dienste soos klarings of die herstel van foutiewe meterlesings gehad het nie.

Volgens Van Staden was die afsluiting van die boekjaar die rede hiervoor.

Related Articles

Back to top button