MunicipalNews

Daar is water in Modimolle se krane!

’n Hele naweek met water in die krane!

Inwoners van Modimolle was bly-verbaas oor dié gelukskoot wat hulle die afgelope naweek getref het.

Die dorp gaan reeds maande lank gebuk onder beurtwater en die meeste huishoudings het slegs elke tweede dag water.

Die waterskedule wat beskikbaar is, is volgens inwoners nie betroubaar nie.

Frustrasievlakke het verlede week op sosiale mediagroepe in die rooi beweeg oor die tekorte. Inwoners het meestal swak beplanning geblameer. Hoewel vrae aan die munisipaliteit se administrasie gerig is rakende die waterkwessie, is daar teen druktyd nog geen antwoorde ontvang nie.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, was die rede vir verlede week se watertekorte omdat Magalies Water nie hul volle kwota van 4 megaliter water gelewer het nie en die Donkerpoortdam se aanleg ook probleme ondervind het.

Een van die oponthoude in waterverskaffing is glo omdat soveel inwoners hul huise toegerus het met watertenks om hul teen watertekorte te beskerm, dat dit aansienlik langer neem om water aan almal te voorsien omdat dié tenks eers vol moet loop.

Van Staden het gesê die verbeterde watertoevoer gedurende die naweek is daaraan te danke dat al die opgaardamme vol was. “As die opgaardamme vol is, kry almal water. Die waterafdeling het Donkerpoortdam se aanleg weer aangeskakel nadat dit herstel is en hulle het genoeg van die regte soort chemiese suiweringsmiddel gekry om groot genoeg volumes water te suiwer. Die vorige middel se gehalte was nie so goed nie en die personeel het gesê dat hulle probleme met watergehalte ondervind,” het sy gesê. “Daar word nou binnekort weer ’n tender uitgestuur vir die verskaffing van chemikalieë soos kalk, chloor en flokkulant vir die aanleg.”

Sy raam dat die Donkerpoortdam se vlak digby die 80% moet wees, wat aansienlik beter is as verlede jaar dieselfde tyd.

Watertrokke ry na wat verneem word steeds water aan na woonbuurte in hoërliggende dele in Phagameng wat nie water het nie. Dié tender verval in Maart 2020.

Related Articles

Back to top button