MunicipalNews

Groot gat uiteindelik herstel

Inwoners in die omgewing van Paul Krugerstraat in Modimolle slaag ’n groot sug van verligting nadat ’n reusegat wat al langer as ’n jaar vol rioolwater staan, vandeesweek reggemaak is.

Op die foto wys burgemeester Marlene van Staden, Oupa Shiburi van die departement openbare werke en Johann Abrie, raadslid van wyk 11, hoe bly hulle is dat dié nagmerrie einde gekry het.

 

Die stinkende gat, enkele meter weg van die Klein Nylrivier, is in Mei verlede jaar gegrawe toe die munisipaliteit ’n rioolpyp herstel het. Die kante het aanhou inkalwe en die gat het só groot geword dat selfs die pad in die slag gebly het.

Inwoners in die omgewing sukkel jare lank reeds gereeld met lekkende rioolpype.

Oupa Shiburi en sy span van die munisipaliteit se openbare werke-afdeling het die afgelope week ingespring en eers die rioolwater uit die gat gepomp en daarna by die rioolaanleg uitgetap.
Daarna kon hulle materiaal wat geskenk is deur Pavecon, Josef Botes Vervoer en die ModiMall in die gat inry. Daar is ook grond wat van die dorp se stortingsterrein afkomstig is, gebruik om die gat op te vul.

Volgens Shiburi gaan die grond ’n tyd neem om eers te kompakteer en sal dit deur die departement van werke gemoniteer word voordat hulle sal besluit of die 100 m lange stuk pad weer geteer of met plaveistene uitgelê moet word.

Tydens Die Pos se besoek het ’n vrou met ’n vrag hout op haar kop verbygeloop en geroep dat die pad nou mooi lyk. Nog ’n verbyganger in ’n bakkie het stilgehou om aan Shiburi, raadslid Johann Abrie en Marlene van Staden, die burgemeester, te sê dat dit ’n groot verligting vir inwoners is dat die pad herstel is.

Die munisipaliteit se eie werkers, en nie kontrakteurs nie, het die herstelwerk gedoen.

Shiburi het ook gesê hy skat sowat 80% van die slaggate in die dorp is herstel. “Collinsstraat is nog ’n groot probleem en ons sal dit dalk maar soos Boshoffstraat moet hanteer, waar ons dele van die pad sal moet oor teer.

“Ons wil graag op ’n punt kom waar ons slaggate binne 24 uur nadat dit aangemeld is, kan herstel,” het Van Staden gesê.

Inwoners wat slaggate wil aanmeld kan ’n foto daarvan neem en dit saam met die straatadres aan haar stuur per Whatsapp na tel. 073 497 5636.

Related Articles

Back to top button