MunicipalNews

Geen dorpstigting, geen papierwerk, maar dienste word verskaf

Van die Tsakane-inwoners ontvang krag direk van Eskom en water vanaf die Bela-Bela-munisipaliteit.

Die toekoms van die Tsakane informele nedersetting op die Eersbewoond-pad buite Bela-Bela is steeds onseker.

Die Pos het in 2018 berig oor die voorstel deur die Bela-Bela-munisipaliteit om meer as 300 Tsakane-inwoners na ’n ander gebied te skuif wat oor die nodige infrastruktuur beskik om basiese krag en waterpunte te kan lewer. In Februarie dieselfde jaar was daar reeds 650 huishoudings in Tsakane.

Die nedersetting het die afgelope twee jaar behoorlik uit sy nate gebars. Die Bela-Bela-polisie is talle kere gekontak oor rusverstoring uit Tsakane en die polisie het ook op verskeie geleenthede onwettige sjebeens se deure daar gesluit.

Omliggende grondeienaars het sedertdien by verskeie geleenthede gekla dat die township hul ondernemings se sake strem. Die mense in die gasvryheidsbedryf word die egste geraak.

Volgens ’n dokument oor openbare reg tot inligting (PAIA) wat deur Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), aan die munisipaliteit gerig is, het die Bela-Bela-munisipaliteit te kenne gegee dat hulle self nie seker is oor die toekoms van Tsakane nie. Die Pos is in besit van ’n kopie van die dokument.

Die gebied is gesoneer as landbougrond en behoort aan die Waterberg-distriksmunisipaliteit. Hoewel dit buite die Bela-Bela-dorpsgebied val, val dit binne die Bela-Bela-distrik.

Van die Tsakane-inwoners ontvang krag direk van Eskom en water vanaf die Bela-Bela-munisipaliteit.

Die munisipaliteit kon tot nou geen kommentaar lewer oor bewerings dat erwe in Tsakane spotgoedkoop en wederregtelik aan die inwoners verkoop is nie.

Luidens Mills se dokument is die sinkhuise in ’n vleigebied opgerig. Daar is glo ook geen omgewingsimpakstudie gedoen en geen ontwikkelingsplan vir die stigting van ’n nedersetting ingedien nie.

Daar word voorts in die dokument beweer dat daar glo ’n moontlikheid is dat eienaarskap van die grond aan die Bela-Bela-munisipaliteit oorgedra word. Dit sou egter impliseer dat die munisipaliteit ’n begroting sal moet opstel en verantwoordelikheid aanvaar vir die instandhouding en dienslewering op die grond.

Intussen het die munisipaliteit glo vullisdromme in Tsakane aangebring en Magalies Water het 300 puttoilette opgerig.

Die Pos het navrae aan die Waterberg-distriksmunisipaliteit gerig.

Die terugvoer wat van die regsafdeling ontvang is, is dat die oordrag van die grond tans nie kan plaasvind nie omdat die Bela-Bela-munisipaliteit eers sekere besluite oor Tsakane op ’n amptelike raadsvergadering moet neem. Die regsafdeling het verdere kommentaar aan Die Pos beloof, maar dit is teen druktyd nog nie ontvang nie.

Related Articles

Back to top button