MunicipalNews

Vordering by nuwe vullisterrein

Daar word goeie vordering gemaak met die ontwikkeling van die nuwe vullisterrein in Modimolle te midde van groeiende ongelukkigheid onder inwoners oor die toestand van die terrein wat tans in gebruik is.

Die Pos het die nuwe terrein, wat in die Drie Hekke-omgewing geleë is, Maandag 24 Junie, saam met die burgemeester Marlene van Staden besoek.

Die terrein, wat volgens amptenare ongeveer 3 ha groot is, is omhein met ’n 2,7 km-lange betonheining wat lemmetjiesdraad bo-op het. ’n Waghuis by die ingangshekke is reeds voltooi.

Een van die groot kopsere by die huidige terrein is dat daar geen toegangsbeheer is nie en vullis op enige plek afgelaai word. Tientalle mense soek daagliks deur die rommel na bruikbare items en word daarvan beskuldig dat hulle vuur maak wat brande op die terrein veroorsaak.

Volgens Eunice Ramuthivheli, waarnemende bestuurder van tegniese dienste, word die eerste “sel” wat gebruik gaan word, reeds gegrawe. Die “sel” se bodem word teen ’n helling gebou en daarna met dik plastiek uitgevoer. “Sodoende kan ons enige vloeistof soos reënwater uitskep en keer dat chemikalieë van die terrein nie deursyfer na ondergrondse water nie,” het sy gesê. Volgens haar is die grootte bykans een en ’n halwe sokkerveld.

Daar word ook voorsiening gemaak vir ’n inweegstasie by die ingang, sowel as ‘n terugkooppunt waar herwinners deur die vullis kan sorteer. Hulle sal nie toegang tot die volle terrein hê nie, het Ramuthivheli gesê.

Volgens Van Staden wil hulle die nuwe terrein teen Desember begin gebruik. Die oogmerk is om dit in ’n volwaardige herwinningsterrein te ontwikkel. Die rehabilitasie van die huidige stortingsterrein sal hand-aan-hand met die ontwikkeling van die nuwe terrein bestuur word.

Volgens Ramuthivheli sal die ou terrein in ’n park of soortgelyke projek omskep moet word omdat huise om veiligheidsredes nie daar gevestig sal kan word nie.

Related Articles

Back to top button