MunicipalNews

Vullisterrein oop ná hofbevel

Die probleem duur al jare lank. Mense wat in die vullis rondkrap vir bruikbare items word dikwels vir die brande geblameer. Inwoners wat vullis aflaai sê ook hulle voel onveilig omdat hulle op die terrein gedreig word.

Die vullisterrein in Modimolle is weer oop vir die publiek en ’n kontrakteur is aangestel om die vullis toe te stoot om verdere brande te voorkom.

Dit volg nadat inwoners se humeure die afgelope weke hoog geloop het oor die swak toestand waarin die terrein is en hoe dit die aangrensende woonbuurte beïnvloed. Brandende vullis laat ’n digte rookwolk oor die huise hang en van die inwoners sê dit is nadelig vir hul gesondheid. Die probleem duur al jare lank. Mense wat in die vullis rondkrap vir bruikbare items word dikwels vir die brande geblameer. Inwoners wat vullis aflaai sê ook hulle voel onveilig omdat hulle op die terrein gedreig word.

Woedende inwoners, wat na bewering in die plakkerskamp woon wat verlede jaar langs die terrein opgeskiet het, het onlangs toegangspaaie na die terrein versper om te verhoed dat vullis afgelaai word. Dit het inwoners en die munisipale vullistrokke met ’n penarie gelaat oor waarheen om met die vullis te gaan. Dit het gelei tot onwettige rommelstortings op verskeie plekke in die veld om die vullisterrein.

Die munisipaliteit het veiligheidswagte aangestel om te verhoed dat mense hul rommel in die veld stort.

“Van die inwoners het eenvoudig net die vullis in die middel van die pad gegooi,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, aan Die Pos gesê. “Ons het kwotasies aangevra om die gemors op te ruim, want ons het toerusting nodig waaroor ons nie beskik nie.”

’n Hofbevel is op Donderdag 6 Junie aan die munisipaliteit toegestaan om diegene wat toegang na die stortingsterrein blokkeer, te belet om daarmee voort te gaan.

Die hofbevel bepaal dat die ses respondente, naamlik Melitha Mashao, Jacobeth Sokutyifa, Daniel Makutane, Samuel Ntshebele, Jack Shokane, Rosina Raphokwana, asook enigeen wat hulle met hul optrede vereenselwig, nie toegang mag blokkeer nie, nie munisipale eiendom wat op die terrein is mag vandaliseer nie en nie die publiek of personeel mag intimideer nie. Die respondente word ook toegang tot die vullisterrein belet.

Die kontrakteur is volgens Van Staden reeds besig met die nuwe vullisterrein wat in die Drie Hekke-gebied ontwikkel word.

Related Articles

Back to top button