MunicipalNews

Nuwe sentrum op plek waar ou White House Hotel eens was

“Die nuwe sakesentrum sal agt persele hê en tot dusvêr is die belangstelling groot.”

Bela-Bela gaan eersdaags ontslae wees van ’n groot seeroog in die middel van die dorp noudat die verwaarloosde gebou op die hoek van Pretoriaweg en Chris Hanistraat in ’n nuwe sakesentrum omskep word.

Die gebou, wat destyds bekend gestaan het as die White House Hotel, was een van die eerste geboue wat in die ou Warmbad opgerig is. Die huidige eienaar, Bernard Blechman, besit die gebou die afgelope 50 jaar.

Die hotel was ’n gunsteling onder die ou Joodse gemeenskap en besoekers van oor die land het die warmwaterbronne (vandag Forever Resorts) besoek. Pieter Roos, verhuringsagent, het by navraag gesê dit was destyds alombekend dat die water genesende eienskappe bevat het.

Die gebou was die afgelope paar jare beter bekend as ’n kuierplek. Die bekende Mango’s Bar en toe later die Champions Bar is daar bedryf voordat albei ondernemings hul deure gesluit het. Sedertdien het die gebou verval en was dit nie ’n bate vir die sentrale sakekern nie.

Roos het bevestig dat bouwerk sedert begin Junie fluks vorder en dat die ontwikkelaars besluit het om die geskiedkundige ontwerp van die ou hotel te behou.

“Die nuwe sakesentrum sal agt persele hê en tot dusvêr is die belangstelling groot,” het Roos gesê.

Volgens hom sal drie ondernemings — ’n selfoonwinkel, ’n supermark en ’n hardeware- winkel — eersdaags hul deure daar open.

“Die bouers het aangedui dat hulle die projek binne die volgende ses maande wil afhandel,” het Roos gesê. “Dit het lank geneem om al die voorafwerk te doen, maar ons glo die nuwe gebou sal ’n bate vir Bela-Bela wees.”

Ondernemings wat belangstel in ruimte vir die huur van die persele kan vir Roos bel by tel. 083 599 3397.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button