MunicipalNews

Vullisterrein-sage duur voort in Modimolle

Die vullisterrein-sage in Modimolle het nie einde nie.

Gefrustreerde inwoners het op Vrydag 24 Mei — ná baie jare van frustrasie en leë beloftes — die toegangsroete na die vullisterrein versper. Brande het toe reeds etlike dae lank digte bolle rook oor die aangrensende woongebied laat hang.

Die Pos berig al sedert 2015 oor die planne om ’n nuwe vullisterrein te vestig sodat die huidige een, wat baie naby aan Uitbreiding 10 en ’n plakkerskamp wat verlede jaar opgeskiet het, geleë is, gerehabiliteer kan word. Die eerste fase van ontwikkeling by die nuwe terrein in die Drie Hekke-omgewing in die gebied agter Pick ‘n Pay, is reeds voltooi.

Die brande op die terrein word glo veroorsaak deur mense wat die vullis deursoek vir bruikbare items.

’n Leser het op Die Pos se Facebook-plasing reageer en gesê hy verstaan dat hulle so voel.

“Ek laai elke dag werkers daar op en ’n mens kan skaars asemhaal.”

Nog ’n leser het gesê: “Dit is seker een van die lelikste plekke waarvan ’n mens kan droom om te sien.”

Raadslid Johann Abrie het Vrydag bevestig dat die munisipaliteit ’n skraper gereël het om die paaie oop te stoot en die smeulende vullis met sand toe te stoot. Die paaie was egter op Dinsdag 28 Mei weer versper en inwoners kon nie enige vullis stort nie.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het Dinsdag gesê dat ’n diensverskaffer aangestel is wat ten alle tye ’n masjien om die vullis te verwerk op die terrein moet hê.

“Daar is ’n dispuut en die diensverskaffer beweer dat hy nie betaal is nie. Ons het egter die bankstate nagegaan en hy is betaal,” het sy gesê.

Sy het gesê dat van die munisipale amptenare op Maandagoggend 27 Mei met die ontstelde inwoners vergader het.

“Die mense is selfs opgelaai en gaan wys hoe vorder die nuwe stortingsterrein by Drie Hekke,” het sy gesê. “Die munisipale raad het van hul kant af alles gedoen wat hulle kon — hierdie probleem het ontstaan omdat amptenare agterlosig is en nie hul pligte nagekom het nie,” het sy gesê.

’n Hofbevel is in Desember 2016 aan ’n naburige grondeienaar toegestaan. Volgens betrokkenes het daar niks van die bevel, wat vereis dat die munisipaliteit onmiddellik stappe moet doen om behoorlike beheer oor die terrein toe te pas, gekom nie. Die hofbevel se vereistes was dat ’n behoorlike heining opgerig word sodat ongemagtigde persone nie toegang tot die terrein het nie, 24-uur veiligheidswagte toegangsbeheer moet toepas, enige brande op die stortingsterrein verhoed moet word en vullisbestuur toegepas moet word deur gereelde kompaktering sodat dit nie kan wegwaai nie.

Die munisipaliteit het die lisensie vir die sluiting van die huidige terrein en die opening van die nuwe herwinningsterrein in die Drie Hekke-omgewing in Januarie verlede jaar ontvang. Van Staden het gesê hoewel die beplanning is om die nuwe terrein binne ’n jaar in gebruik te neem plaas hulle druk op die partye om die projek vroeër te voltooi.

Related Articles

Back to top button