MunicipalNews

Gate en slote in paaie frustreer inwoners

Bela-Bela-inwoners raak al hoe vieser nadat die kontrakteurs wat etlike maande gelede die waterpype in die dorp vervang het, die slote in paaie, op sypaadjies en oor opritte net so gelaat het om “later” toe te gooi.

Die projek om die ou asbeswaterpype in die dorp met nuwes te vervang, het in 2016 begin en word deur die departement van water en sanitasie befonds en deur kontrakteurs bestuur.

Volgens Tinus Ras, DA-raadslid, is daar tans twee kapitale projekte in wyk 1 aan die gang. Dit sluit die waterpype-, asook ’n veselkabelprojek, in.

Die veselkabels word vanaf Spa Park deur die dorp gelê nadat MTN die regte bekom het om ’n selfoontoring in die terrein van die watersuiweringswerke-aanleg in Beckettstraat op te rig.

Hoewel MTN ’n kennisgewing in Die Pos daaroor geplaas het, het talle inwoners eers bewus geword van die projek toe die bouwerk begin het.

Sommige inwoners was bekommerd dat die toring te na aan hul wonings opgerig sal word.

Sello Michael Makhubela, munisipale bestuurder, het tydens die laaste begrotingsvergadering met wyk 1-inwoners beloof dat die projek nie sal voortgaan nie totdat daar op die regte plek vir die oprigting van die toring besluit is. Volgens Ras het die projek ten spyte van dié belofte voortgegaan en is die toring reeds opgerig.

Intussen kla inwoners ook steen en been oor die toestand van paaie in die dorp. Daar is gevaarlike slote by talle kruisings wat tydelik of glad nie opgevul is nie. Inwoners kla dat die opritte na hul wonings deur die kontrakteurs opgegrawe en toe net so gelaat is vir die inwoners om self die plaveisel te herstel of die slote tydelik toe te gooi net om by hul erwe in te kom.

“Die waterpypkontrakteur het net tyd gehad tot Sondag 5 Mei om die slote ordentlik toe te maak, maar ons is reeds teen die einde van die maand en slote is steeds oop,” het Ras gesê.

“Heelwat voertuie is reeds beskadig. ’n Inspeksie saam met die munisipale bestuurder en Betty Maswanganyi, die tegniese bestuurder, moet nog plaasvind.”

Ras maan dat inwoners asseblief nie die slote summier moet toegooi nie, maar hom liefs self moet kontak om ’n ander uitweg te vind.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie gesê inwoners moet geduldig wees totdat die projekte afgehandel is.

“Die munisipaliteit is daadwerklik besig om projekte af te handel en om die slote stelselmatig toe te maak. Ons is ook besig om die straatligte te herstel,” het hy gesê.

“Inwoners kan aan die begin van Junie wateronderbrekings verwag omdat die waterstelsel ook opgegradeer sal word.”

Related Articles

Back to top button