MunicipalNews

Honderde inwoners kry ná 10 jaar spoeltoilette

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het op Maandag 13 Mei besoek afgelê by inwoners van Mookgophong wat verheug is nadat spoeltoilette en wasbakke uiteindelik, ná baie jare se gewag, in hul huise gekoppel is.

Dié huise is deel van die regering se Heropbou- en ontwikkelingsprogram (HOP). Die 360 spoeltoilette en wasbakke is ná 10 jaar se wagtydperk in werking gestel.

Volgens Van Staden is die projek reeds op 1 Oktober 2017 van stapel gestuur en was hierdie fase twee van die projek waartydens 1 300 huise in Wyk 9 (Uitbreiding 4) en Wyk 10 (Uitbreiding 1) van sanitêre geriewe voorsien is.

“Nog 191 huise se toilette sal binne die volgende ses weke gekoppel word. Hierdie HOP-huise is meer as 10 jaar gelede gebou, maar is nooit met die dorp se water- of rioolinfrastruktuur gekoppel nie. Daar was geen toilette in die huise nie. Die inwoners het nog heeltyd van puttoilette buite die huise gebruik gemaak,” het Van Staden aan Die Pos gesê.

Volgens haar het dit beslis ’n negatiewe uitwerking op die ondergrondse water in Mookgophong gehad.

Volgens Van Staden is sy trots om te sê dat plaaslike kontrakteurs gebruik is om die nodige materiaal te verkry vir die installering van die toiletstrukture, asook om die pype binne en buite die huise te koppel. Daar is ook 160 mangate gegrawe en geïnstalleer.

“Ek is regtig baie tevrede met die vordering van die projek en sal baie opgewonde wees wanneer die projek in die volgende ses weke afgehandel word,” het sy gesê.

’n Aantal raadslede was deel van die besoek, asook munisipale amptenare en verteenwoordigers van die munisipale infrastruktuurfonds. Die projek is deur die munisipale infrastruktuurfonds (Municipality Infrastructure Grant) gefinansier.

Related Articles

Back to top button