MunicipalNews

Flukse vordering met elektrifiseringsprojekte

“Die nuwe substasie is ’n groot verbetering vir die dorp.”

Daar word fluks vordering gemaak met die elektrifisering van 500 erwe in Phagameng buite Modimolle.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, word staatsgesubsidieerde huise op die erwe gebou.

’n Voorafbetaalde elektrisiteitsmeter sal in elke huis aangebring word, asook ’n 20 amp-stroombreker.

’n Tweede projek in dié geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram (INEP) is die bou van ’n nuwe substasie in Phagameng. Volgens Van Staden sal dit verseker dat die inwoners van Modimolle ’n meer stabiele elektrisiteitstoevoer kan verwag. Modimolle sal dan twee, pleks van een, substasies hê.

Van Staden het die twee projekte op Donderdag 16 Mei besoek.

“Die nuwe substasie is ’n groot verbetering vir die dorp. Ons sal uiteindelik ’n ringvoer kan insit as die substasie voltooi is. Indien iets fout gaan by die ouer substasie, kan ons danksy die ringvoer krag van die nuwe substasie af voorsien” het sy gesê.

“Die kontrakteurs is tans besig met die siviele werk en die eerste fase van die projek behoort teen einde Junie voltooi te wees. Die 100 m by 100 m-grootte perseel sal eers omhein word voordat die bouwerk begin en ’n nuwe ingang met ’n veiligheidspunt sal gebou word om die perseel te beveilig,” het sy gesê.

Die projek kan tot ’n jaar neem om te voltooi. Die twee projekte se vordering is aanvanklik belemmer deur gemeenskapslede wat die aanstel van kontrakteurs vertraag het, het Van Staden gesê.

Related Articles

Back to top button