MunicipalNews

Mookgophong-egpaar al sedert Februarie sonder krag

’n Kragprobleem buite Mookgophong wat ontstaan het weens ’n foutiewe trans-formator, het in ’n tameletjie vir Braam en Dezi Oosthuizen ontaard.

Braam is al 42 jaar in die vleisbedryf betrokke en boer met wild op die plaas, Rietfontein, sowat 8 km buite die dorp.

’n Transformator het glo in Februarie op die plaas onklaar geraak en van toe af is die Oosthuizen-egpaar, hul werkers en die onderneming sonder krag.

“Ons moet saans etlike kilometer ver na ons seun toe ry om te gaan bad. Dit raak stikdonker en die veiligheidsrisiko word groter,” het Braam gesê.

Volgens Braam het hy die probleem onder die aandag van die DA-raadslede van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gebring, maar die probleem is steeds nie opgelos nie.

Die gort was in April gaar toe die Oost-huizens verneem dat ’n transformator glo op ’n ander nabygeleë eiendom vervang is ter-wyl hulle al maande sonder krag is.

“Ons moes noodgedwonge ons goed oppak en na Kempton Park verhuis. Volgens Braam het die hele situasie sy vrou só ontstel dat sy in die hospitaal beland het.

“Ons voel dat die DA en die munisipaliteit ’n apatiese houding teenoor ons getoon het. Ons glo voorts dat ons regte geskend word en ons is besig om regsadvies daaroor in te win.”

Braam het intussen uit sy eie sak ’n transformator gekoop. “Terwyl ons tussen Gauteng en die plaas pendel, weet ons ten minste dat ons werkers krag en water het. Dit is ons menslike plig om na hulle om te sien.”

Willy Magana, hoof van die tegniese afdeling by die munisipaliteit in Mookgophong, het by navraag aan Die Pos gesê hulle het gesukkel om die regte transformator vir Oosthuizen in die hande te kry.

“Die een wat ons by die nabygeleë eiendom geïnstalleer het, was ’n ander model as die foutiewe een op Oosthuizen se grond. Ons sukkel al geruime tyd om voorraad in die hande te kry om plaaslike probleme te herstel, maar ons sal die saak verder met hom opneem.”

Volgens die DA is die probleem om voorraad te bekom en om deeglike diens te lewer, meer ingewikkeld as wat mense besef.

Johann Abrie, DA-raadslid, het gesê daar bestaan ’n “stille sabotasie-veldtog” onder amptenare van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit wat veroorsaak dat dienslewering daaronder ly.

“Ons volg elke diensleweringsprobleem van die publiek op, meld dit aan by die regte afdeling en volg weer op, maar ons kry geen ondersteuning van die aangestelde ANC-amptenare wat dit verder moet hanteer nie,” het hy gesê.

Die munisipaliteit is verlede jaar onder administrasie geplaas — twee jaar nadat die DA ’n samewerkingsooreenkoms met die EFF en die Vryheidsfront Plus bereik het om beheer van die raad van die ANC weg te neem.

Nadat die munisipaliteit onder administrasie geplaas is, het die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) ’n administrateur, Mapule Mokoko, as waarnemende munisipale bestuurder aangestel.

Sy moes van toe af rekenskap van die munisipaliteit aanvaar nadat OP Sebola, voormalige munisipale bestuurder, se kontrak as munisipale bestuurder verstryk het. Die samesmelting van die twee munisipaliteite het kort ná die munisipale verkiesing in 2016 plaasgevind.

Volgens Lindy Wilson, LP en die DA se kiesafdelingshoof in die Waterberg, is die DA se hande in baie gevalle afgekap. “Die burgemeester, Marlene van Staden, het nie die mag om links en regs bevele uit te deel nie. Slegs die munisipale bestuurder aan wie ons sake rapporteer, kan opdragte aan amptenare gee,” het Wilson by navraag gesê. “Die DA probeer ons bes om seker te maak dat dienslewering plaasvind, maar die oomblik wanneer die ANC-administrasie dit moet hanteer en niks doen nie, is ons hande afgekap. Dit alles stink van politieke sabotasie.”

Jacques Smalle, provinsiale DA-leier, het by navraag gesê die samewerkingsooreenkoms by die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het baie groeipyne. Hy beweer die provinsiale regering weerhou geld van die munisipaliteit en vooruitgang word só beperk.

Abrie het gesê dit het tyd geword om amptenare wat versuim om op die gemeenskap se pleidooie te reageer voor stok te kry, “want die huidige raamwerk waar oorsig oor amptenare uitgeoefen moet word, werk glad nie meer nie.”

Related Articles

Back to top button