MunicipalNews

Bekyk waardasierol betyds

Wat is jou huis werd?

Inwoners in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het tot Dinsdag 30 April om regstellings aan munisipale waardasie van hul eiendomme te maak.

Die bedrag wat op die rol verskyn, bepaal munisipale tariewe en belasting en dit is daarom belangrik dat inwoners verkeerde waardasies betyds regstel, sê Sarna Groenewald, raadslid vir Wyk 12. Die rol is vir vyf jaar geldig.

Inwoners van die Bosveldsig-aftreeoord in Modimolle het glo besef dat verskeie huise wat soortgelyk aan omliggende huise is, met derduisende rande meer of minder gewaardeer is. Een van die inwoners en wykskomiteelid, Pieter Pretorius, en Groenewald het ’n analise van drie fases se waardasies gedoen, waarna hulle ’n vergadering met Legogo, die maatskappy wat die waardasies doen, gereël het. Legogo, wat glo nie al die inligting oor die eiendomme gehad het nie, het al 420 huise in Bosveldsig se waardasies oorgedoen.

“Die eiendomme is nou eenvormig gewaardeer,” het Pretorius aan Die Pos gesê. Een van die huise was na verneem word vir etlike miljoene gewaardeer sonder dat die eienaar dit besef het.

Hoewel daar steeds ná die sluitingsdatum veranderinge aan die waardasierol gemaak kan word, het Groenewald gewaarsku dat die regstellingsproses tyd neem.

“Inwoners wat vertoë wil rig kan nie net ’n e-pos na die munisipaliteit of waardeerders stuur nie. Die korrekte vorm moet sorgvuldig ingevul word met soveel as moontlik spesifieke inligting. Vertoë moet geensins emosioneel wees nie, maar feitelik.”

Die vorms is by Groenewald beskikbaar en moet by Jack Sithole by die munisipaliteit ingedien word. Groenewald raai inwoners aan om seker te maak dat hulle ’n aantekening in die boek maak dat die dokument afgelewer is. “Dit is ’n goeie plan om twee afskrifte saam te neem. Dien een in en laat die personeel die tweede afskrif teken as bewys van ontvangs.”

Groenewald het ook gewaar-sku dat die nuwe waardasie aansienlik kan verskil van die vorige waardes.

“Elke inwoner is self daarvoor verantwoordelik om hul waardasies na te gaan en indien nodig, reg te stel,” het sy gesê.

Sy het gesê dat Pretorius sy gemeenskap gedien het deur die proses vir die Bosveldsig-inwoners te behartig.

Inwoners kan hul waardasies aanlyn besigtig, asook by die munisipale kantore. Die waardasierol is beskikbaar by www.lim368.gov.za onder die hofie “Legislation and Documents” by “Modimolle-Mookgophong. Vir navrae bel vir Groenewald by 079 074 3614.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button