MunicipalNews

Die lang gewag vir rybewyse duur voort

Mense wat vir rybewyse aansoek gedoen het, is warm onder die kraag oor die enorme agterstand by die afdeling wat rybewyse landwyd moet uitreik.

Dié afdeling, wat bekend staan as die Driving Licence Card Account (DLCA), vervaardig en skep nuwe rybewyse en stuur dit dan terug aan die aansoeker by hul plaaslike verkeerskantore waar daar aanvanklik aansoek gedoen is.

Talle inwoners van Bela-Bela het die afgelope maand by Die Pos gekla oor die swak diens by die lisensieafdeling van die plaaslike munisipaliteit. Van hulle wag reeds sedert April 2018 op hul rybewyse. Om ’n tydelike rybewys te bekom, gebeur ook nie sonder baie moeite en geduld nie.

Luidens ’n verklaring van Blade Nzimande, minister van vervoer, het die agterstand ontstaan weens ’n arbeids-geskil by die DLCA.

Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, het by navraag gesê die geskil het te doen met DLCA-werkers wat op permanente aanstelling aangedring het.

Die groep ter sprake het sedert verlede jaar summier geweier om te werk totdat hul aanstellings gedoen is, het hy gesê.

Die werkers het in Desember teruggekeer werk toe, maar teen Januarie was daar steeds ’n agterstand van meer as 300 000 aansoeke wat nie gehanteer is nie, het Nzimande gesê.

Swak bestuur het glo die probleem vererger. Instandhoudingswerk by drukkers is glo geskeduleer in die tyd toe daar reeds ’n reuseagterstand was en het nóg ’n groter agterstand veroorsaak.

Volgens Nzimande het die Departement van Verkeer intussen riglyne aan nasionale en provinsiale verkeersafdelings gestuur om motorryers tegemoet te kom indien hulle bewys kan lewer dat hulle reeds aansoek gedoen het om nuwe rybewyse.

Nzimande het gesê motorryers wat langer as drie maande voordat hul rybewyse verval het vir nuwe rybewyse aansoek gedoen het, moet vrygestel word van verkeersboetes.

Tydelike rybewyshouers wie se tydelike rybewyse binne die agterstandtydperk verstryk het, hoef nie weer aansoek te doen om nuwe tydelike rybewyse te bekom nie.

Nzimande het gesê dié mense moet hul verstrykte rybewyse aan verkeersbeamptes toon sodat hulle nie beboet word nie. Hy het mense aangeraai om die ekstra fooi op te dok vir ’n tydelike rybewys totdat die probleem opgelos is.

  • Die kwessie is op Donderdag 4 April tydens ’n vergadering met hooggeplaastes by die Bela-Bela-polisiestasie bespreek.

    Die vergadering het verneem die termyn wat binne die huidige raamwerk vir vry-waring val, is glo vanaf Junie 2018 tot nou.

    Motorryers wat weens dié probleem nie tans oor geldige rybewyse beskik nie, is gemaan om hul versekeraars daarvan in kennis te stel aangesien daar klousules in polisdokumente is wat vereis dat motorryers oor ’n geldige rybewys moet beskik.

    Enige navrae oor die vordering van ’n rybewysaansoek word tans as ’n gratis diens by plaaslike verkeersafdelings hanteer.

    Indien mense beboet word binne die vertragingstydperk kan hulle ’n dispuut verklaar deur ’n vorm vanaf die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) by www.aarto.gov.za af te laai en dit per e-pos te stuur na revocation@rtia.co.za, het Nzimande gesê.

    Vir navrae, bel die RTIA by tel. 086 122 7861.

Related Articles

Back to top button