MunicipalNews

Waterkwessie bly ’n nagmerrie vir inwoners

Beurtkrag, swak munisipale dienste en kwaadwillige sabotasie word die skuld gegee vir dié krisistoestand.

Asof die afgelope paar weke se beurtkrag nie genoeg uitdagings aan inwoners van Mookgophong gebied het nie, gaan dele van dié dorp steeds gebuk onder die voortslepende waterkrisis.

Volgens die inwoners in Gholfpark het hulle vir 18 dae in Maart sonder water in die krane gesit. Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het dié organisasie en ander rolspelers in die dorp onverpoosd gewerk om waterkarre en -tenks te vul sodat inwoners, en veral ouer inwoners, water kon hê.

Burgemeester Marlene van Staden saam met die span wat die waterkrisis in Mookgophong probeer oplos: Ben Steyn, Thabang Selemela (bestuursafdeling), Marlene van Staden, Jerry Kgabo, raadslid Hercules Louw en Jim Shivambo.

 

Beurtkrag, swak munisipale dienste en kwaadwillige sabotasie word die skuld gegee vir dié krisistoestand. Volgens burgemeester Marlene van Staden en haar span, wat die pompstasies en opgaartenks op 20 Maart besoek het, wil dit voorkom of die stukkende pompe en munisipale amptenare se onverantwoordelikheid ’n groot bydrae gelewer het tot die krisis. Van Staden het aan Die Pos gesê dat die nuwe waterpype al lankal geïnstalleer is en dat daar nie ’n probleem met pype behoort te wees nie.

Van Staden het op ’n video-greep, wat op sosiale groepe geplaas is, gesê dat die beloofde R20 miljoen van die nasionale tesourie om die water- en rioolwerke op te gradeer, nog nie ontvang is nie. Dit veroorsaak dat die nodige instandhouding nie gedoen kan word nie.

Sabotasie van die kleppe wat watertoevoer beheer, is volgens haar een van die groot probleme en raadslid Hercules Louw moes ’n groot klip wat op een van die kleppe geplaas is, verwyder sodat die kraan oopgedraai kon word. Videomateriaal wat by een van die pompe geneem is, wys ook dat ’n onbekende persoon gedurende die nag van die krane toedraai. Die saak is by die polisie aangemeld, maar die skuldige kon nie geïdentifiseer word nie.

Van Loggerenberg het op Sondag 24 Maart op ’n WhatsApp-groep van Mookgophong gesê dat die werkers wat die pompe reguleer nooit die pompe by een van die dorp se waterbronne, die Frikkie Geyser-dam, op Vrydagnag 22 Maart aangeskakel het nie. Die dorp het dus geen water van die dam af ontvang nie en inwoners sou dus slegs elke derde dag die afgelope week water hê.

Inwoners het heftig hierop gereageer en gal gebraak oor die onvermoë van amptenare en hul klaarblyklike traak-my-nie-agtige houding. Ander inwoners op die groep het raadslede en die burgemeester beskuldig dat hulle nie beheer het oor die amptenare nie.

Related Articles

Back to top button