MunicipalNews

Inwoners het nie water nie want kraan is glo nooit oopgedraai

Inwoners van Bela-Bela het die afgelope tyd kort-kort hande in die hare gesit oor leë waterkrane.

Die laaste week in Februarie en die eerste naweek in Maart moes die waterskottels gereeld nadergetrek word nadat daar watertekorte op verskeie plekke in die dorp opgeduik het.

’n Waterpyp het glo vroeër die week in die omgewing van Minnaarstraat gebars wat daartoe gelei het dat inwoners en ondernemings in Ludorf-, Minnaar- en Kretzchmarlaan sonder water was.

Volgens Tinus Ras, DA-wyksraadslid, is die gebarste pyp op Saterdag 2 Maart herstel.

“Die kraan wat ’n kontrakteur toegedraai het om herstelwerk te doen, is skynbaar nooit weer oopgedraai nie en daarom was daar onnodige vertraging in dienslewering.”

Die munisipaliteit was blykbaar onbewus van dié bewering, want hulle het op Sondag 3 Maart op hul Facebook-blad gesê hulle sukkel om die fout op te spoor en stuur ’n watertrok uit na inwoners wat nie water het nie. Volgens dié plasing op Facebook het die kontrakteurs “dwarsdeur die dag” gewerk om die probleem te probeer oplos, maar was onsuksesvol.

Die munisipaliteit het verskoning gevra vir die ongerief.

Ras sê egter die werklike probleem is eers Maandagoggend 4 Maart ontdek en die dorp se watertoevoer kon net ná 09:00 herstel word.

Talle inwoners het egter gekla omdat daar teen Maandagoggend nie water óf ’n watertrok in sig was nie.

“Hierdie is maar net een van talle kere dat waterpype bars of ernstige waterlekke ontstaan. Die munisipaliteit doen risiko-instandhouding wanneer iets breek, maar doen geen beplande instandhouding nie,” het Ras gesê.

Hy meen die munisipale bestuurder, Sello Michael Makhubela, moet seker maak dat gereelde instandhoudings-planne en -skedules aan elke betrokke afdeling by die munisipaliteit deurgegee word en dat departementshoofde, onder sy leiding, moet toesien dat instandhouding gereeld plaasvind.

  • Inwoners moet onthou van die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplanvergadering (GOP) met inwoners wat eersdaags plaasvind.

    Ras het gesê die GOP sal die mees geskikte podium vir inwoners wees wat hul misnoeë en behoeftes aan munisipale amptenare wil voorlê. Hierdie punte moet verkieslik skriftelik ingedien word, maar dit kan ook mondelings gedoen word sodat die munisipaliteit kan beplan en begroot om diensleweringsprobleme op te skerp.

    Die datums van die vergaderings en waar dit sal plaasvind sal binnekort bekendgemaak word.

Related Articles

Back to top button