MunicipalNews

Suid-Afrikaners is keelvol vir swak dienslewering

“Plaaslike regering het só verpolitiseer dat rade dikwels nie meer ongerymdhede van die administrasie uitwys of aanspreek nie.”

Waterbergers — en trouens mense regoor die land — is behoorlik moedeloos oor die lang tydsverloop voordat munisipale foute herstel word.

Inwoners moet telkens hoor daar is nie beskikbare fondse, onderdele of mannekrag nie.

Die Pos het vrae hieroor aan Jaco Grobbelaar, AfriForum se provinsiale distrikskoördineerder, gerig.

“Plaaslike regering het só verpolitiseer dat rade dikwels nie meer ongerymdhede van die administrasie uitwys of aanspreek nie,” het hy gesê. Wetgewing bepaal egter dat die provinsiale tesourie, asook die departemente van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA), waterwese en omgewingsake, se hulp ook ingeroep kan word. Talle premiers landwyd het al ingestem dat ’n provinsiale departement by die bestuur van ’n munisipaliteit moet ingryp, het hy gesê.

Grobbleaar het voorgestel dat gemeenskappe projekte loods om verbeterde dienslewering te verseker, eerder as dat individue inspring en probeer help.

“Die gemeenskap moet probleme uitwys om gepaste oplossings te vind en deeglik met die betrokke munisipaliteite daaroor onderhandel,” het Grobbelaar gesê.

Hy het melding gemaak van ’n hofsaak in die Oos-Kaap waar die howe genader is om onder meer paaie te herstel.

Die hof het beslis dat die provinsiale regering geld aan ’n betrokke organisasie moet voorsien om herstelwerk te doen. Die uitspraak beteken egter nie dat mense wat uit hul eie sakke vir herstelwerk betaal het, dit kan terugeis nie, het hy gesê.

“Ons strategie is om munisipaliteite vas te vat om hul grondwetlike pligte na te kom, maar ons vra ook van inwoners om deel te neem aan munisipale prosesse soos die geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) en die begrotingsproses.”

AfriForum het voorheen diensleweringsprojekte in die Waterberg geloods. Straatligte en teer is onder meer aan die Bela-Bela- en Mookgophong-munisipaliteite verskaf om slaggate te herstel.

In Mookgophong is boorgatprobleme, in samewerking met die munisipaliteit, bespreek en reggestel, het Grobbelaar gesê.

“Sulke projekte kan lei tot langtermyn-ooreenkomste waar gemeenskapsorgani-sasies saam met die munisipaliteit werk om dienste te verbeter.”

Related Articles

Back to top button