AdvertorialBusinessNewsSponsored

Kom kuier saam by Modimolle se gewilde ekspo

Boere, wildboere, rolspelers in die jag- en gasvryheidsbedryf en inwoners van Die Pos se lesersgebied kan hulle vere regskud vir die Wild, Jag en Agri Ekspo wat einde Februarie by Castle de Wildt buite Modimolle plaasvind.

Die nuutste tegnologie en produkte wat betrekking het op feitlik al die sektore in die wild-, jag- en boerderybedryf, sal tydens dié ekspo — van 28 Februarie tot 2 Maart — te sien wees.

Die pragtige Castle de Wildt is uitstekend toegerus vir ’n ekspo van dié aard en die organiseerders beplan om die geleentheid uit te bou tot een van die grootste platforms in Limpopo, Noordwes, Gauteng én Mpumalanga vir die bemarking van inligting en produkte in die wild-, jag- en boerderybedryf.

 

Vervaardigers, verskaffers en kleinhandelaars wat hul produkte sal uitstal sluit in saadprodukte en saaiboerdery (mielies, koring, sonneblomme, katoen ensovoorts), boordboerdery, lewende hawe (beeste, varke, hoenders en skape), melkboerdery, organiese tuinmaak en boerdery (waaronder hidroponiese en aquaponiese metodes), asook wildboerdery (waaronder eko-toerisme, jag en wildteling).

Kenners wat spesialiseer in onder meer wild- en jagboerdery, asook tradisionele boerderypraktyke, sal besoekers verder tydens kort inligtingsessies toespreek oor verskeie aspekte in bogenoemde bedrywe.

Daar sal ook gefokus word op jong entrepreneurs en boere wat graag hul voete in die veilingsbedryf wil vind. ’n Kompetisie vir jong mense tussen die ouderdomme van 19-35 word in dié verband aangebied. Deelnemers sal onder meer op grond van hul kennis van lewende hawe beoordeel word en hulle sal ook die geleentheid kry om hulself bekend te stel. Die wenner tydens die Castle de Wildt-ekspo sal deurdring na die nasionale ronde en die algehele wenner sal Suid-Afrika in die buiteland verteenwoordig.

Vir meer inligting oor die kompetisie bel vir Michelle Verster by tel. 083 375 4641 of stuur ’n e-pos aan michelle@plaasmedia.co.za(.)

Die plaaswerkersdag wat deur Wildlife Ranching South Africa (WRSA) aangebied word, is ’n geleentheid waarby selfs ’n gewone dorpsbewoner kan baat vind. Dié opleidingsgeleentheid vind op die eerste dag van die ekspo (Donderdag 28 Februarie) vanaf 8:00 tot 17:00 plaas. WRSA-lede se werknemers word gratis tydens die dag opgelei en nie-lede betaal ’n geringe fooi. Elke kursusganger ontvang na afloop van die opleiding ’n sertifikaat en werkers ontvang ook gratis middagete.

Danksy die gewildheid van dié opleiding is dit raadsaam dat werkgewers hul werkers vooraf registreer.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos na admin@wrsa.co.za(.)

Die onderskeie kursusse word in drie groepe verdeel:

  • Groep 1 sal fokus op brandbestryding en giftoediening (in die voorkoming van onkruid en ander plantindringers).
  • Groep 2 sal fokus op karkashantering (slag, hantering en voorbereiding van trofeë vir taksidermis) en vleisbewerking.
  • Groep 3 sal die kollig op die gasvryheidsbedryf laat val. Werkers sal onder meer geleer word hoe om tafels te dek, beddens op te maak en gaste korrek te bedien. Hulle sal ook ’n kookkursus ondergaan en leer hoe om ’n watertandgereg of twee te maak.

En nog is dit het einde niet. Daar is ook ’n arenaprogram waartydens die beste Arabier-perde en uitsoekwild per veiling aangebied sal word. ’n Veilingskatalogus word op Vrydag 22 Februarie in Die Pos versprei.

Besoekers sal tydens die ekspo op die terrein van die lieflike Castle de Wildt kan ontspan deur iets te ete of drinke geniet en die plaaslike kosstalletjies te ondersteun.

Bernard Groenewald van Castle de Wildt is opgewonde oor die ekspo en sê dat die fokus by uitstek sal val op gehalte uitstallers, inligtingsessies en die uitruil van waardevolle inligting wat rolspelers in verskeie boerderysektore sal toerus en bemagtig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button