MunicipalNews

Geen einde aan Modimolle se rioolkrisis

Die meegaande stank en brommers het glo inwoners in die kompleks radeloos.

Die rioolprobleme in Modimolle is steeds in die kollig nadat ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien is oor rioolvuil wat die veld in stroom in ’n woongebied.

Volgens Marcelle Maritz, die VF Plus se provinsiale leier, is hulle bekommerd dat die lekkende riool die tientalle boorgate in die omgewing kan beïnvloed. Sy het die klag op Maandag 4 Februarie ingedien.

Dit volg nadat ’n inwoner van Villa Olien in Olienhoutstraat op sosiale media gekla het dat ’n rioollek al maande lank voortgaan sonder dat die munisipaliteit daaraan aandag skenk. Die meegaande stank en brommers het glo inwoners in die kompleks radeloos.

“Die probleem duur al meer as ses maande. Werkers van die munisipaliteit het die pyp in September oopgegrawe en aan my gesê dat hulle die werk gou sal voltooi want die passtuk wat kort, kom binnekort. Die lekkende pyp staan egter sedertdien net so, al het ek herhaalde oproepe daaroor gemaak,” het die inwoner gesê.

Die rioolpyp is nie op die Abraham Krielkinderhuis se gronde soos wat ook op sosiale media berig is nie.

“Ons was nie eens bewus van die lek nie en het in die media daarvan gehoor,” het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, by navraag gesê. Die kinderhuis het hulself op sosiale media van die probleem gedistansieer. Dit is glo geleë op ’n onontwikkelde stuk grond wat toegeken is aan die Sonstraalskool wat later ’n skool hier sal bou. Die beboste stuk erf is met pallissade omhein en die hekke is gesluit. Geen kinders van die kinderhuis kan toegang daartoe verkry nie,” het Van der Merwe gesê.

Volgens ’n mediaverklaring deur Jacques Smalle, provinsiale leier van die DA, is die probleem reeds einde verlede jaar by die munisipaliteit se departement van tegniese dienste aangemeld.

“Daar is reeds grondverskuiwingstoerusting gereël om die probleem op te los. Dit behoort binne dae aandag te kry,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gesê.

Die Pos het die afgelope paar weke ook berig oor die rioolkrisis langs die Klein Nylrivier. Rioolvuil het uit verskeie mangate reguit in die rivier in gestroom. By die rioollyn langs die slagpale het stinkende bloedwater herhaaldelik padlangs tot in die rivier gespoel. Dit is al jare lank ’n probleem.

Ook hieroor het die VF Plus strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurders van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit en die Waterberg distriksmunisipaliteit, sowel as die bestuurder van die slagpale, aanhanging gemaak. Dié sake is na die departement van omgewingsake se Groen Skerpioene-eenheid verwys. Teen druktyd het die Groen Skerpioene nog nie kommentaar oor navrae beskikbaar gehad nie.

Rioolprobleme in Mookgophong het ook hewige reaksie ontlok. Die VF Plus het op Dinsdag 5 Februarie die bestuur van Die Oog-aftreelandgoed in Mookgophong bygestaan om ’n klag teen die ontwikkelaar by die Groen Skerpioene in te dien. Die party het daarna ’n klag by die Menseregtekommissie ingedien.

“Ons eis dat die munisipaliteit dadelik ingryp deur eerstens ’n gesondheidsinspekteur opdrag te gee om die probleem deeglik te ondersoek en die ontwikkelaar te dwing om die probleem dringend op te los. Die onus berus immers by die munisipaliteit om om te sien na die welstand van al sy inwoners,” het Maritz gesê.

Related Articles

Back to top button