MunicipalNews

Inwoners van Modimolle sien die lig in die watertonnel

Dit is ’n fyn balans om nou water te voorsien, maar ook voorsiening te maak vir die wintermaande,” het Selemela gesê.

Of die Donkerpoortdam nou half vol of half leeg is, die goeie nuus is dat die stand van sy water aansienlik beter lyk as dié tyd verlede jaar.

Goeie reën het die afgelope maand geval en volgens boere in die omgewing is damme hoër op in die rivier reeds vol en die berge versadig. Reën wat nou val, sal die dam se watervlak aansienlik vinniger laat styg.

Thabang Selemela, afdelingshoof van waterdienste by die munisipaliteit, en Marlene van Staden, burgemeester, het op Maandag 28 Januarie self die dam se watervlak gemeet. Dit staan tans op 43% en volgens Selemela is die kleur ’n goeie aanduiding dat die watergehalte goed is.

“Ons het verlede jaar in Mei begin om uit die dam te pomp om die water wat die dorp van Magalies Water ontvang, in die wintermaande aan te vul. Die watervlak was toe 45% en dié water het gehou totdat die dam in Oktober te leeg was. Dit is ’n fyn balans om nou water te voorsien, maar ook voorsiening te maak vir die wintermaande,” het Selemela gesê.

Die Donkerpoortdam is volgens hom ’n kategorie 3-dam en het ’n houvermoë van 2,46 miljard liter water.

“Wanneer ons bepaal hoe vol die dam is, meet ons bo van die wal af tot by die watervlak. Dié inligting plaas ons in ’n grafiek wat deur die departement van waterwese opgestel is en die kontoere van die dam in ag neem sodat ons ’n persentasie kan bereken,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat daar gereeld veiligheidsinspeksies by die Donkerpoortdam gedoen word soos wat deur die wet bepaal word.

“Die inspekteurs kyk ook na die minder ernstige krake in die wal. Ons vergader binnekort met die departement en sal dan bespreek of die damwal gelig en die slyk verwyder kan word om die dam se houvermoë te verhoog.”

Van Staden het inwoners tydens ’n gemeenskapsvergadering op Dinsdagaand 29 Januarie gerus gestel oor die watergehalte.

“Die damwater word gereeld getoets en gaan deur die suiweringswerke waar die nodige chemikalieë bygevoeg word. Daar is geen nedersettings of varkboerderye hoër op geleë nie. Die gesondheidsinspekteurs toets ook die boorgate gereeld en Magalies Water het selfs nog strenger toetse vir waterge-halte,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button