MunicipalNews

DA verkla binnelandse sake by minister

Volgens die DA kon verskeie kiesers nie in Bela-Bela registreer nie omdat die plaaslike departement van binnelandse sake nie betyds tydelike ID-dokumente aan hulle kon verskaf nie.

Die laaste registrasienaweek vir die komende nasionale verkiesing het nie foutloos in Bela-Bela verloop nie.

Suid-Afrikaners kon Saterdag en Sondag (26-27 Januarie) by die onderskeie stempunte vir die verkiesing registreer of herregistreer.

Volgens die DA kon verskeie kiesers egter nie in Bela-Bela registreer nie omdat die plaaslike departement van binnelandse sake nie betyds tydelike ID-dokumente aan hulle kon verskaf nie.

Die DA het in ’n verklaring gesê hulle het ’n klagte aan Siyabonga Cwele, minister van binnelandse sake, gerig om die departement se Bela-Bela-kantoor reg te ruk.

Die departement se funksie is om aansoeke vir geboortesertifikate, huweliksertifikate, doodsertifikate, ID-dokumente en paspoorte te hanteer.

Volgens Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo en premierskandidaat, sukkel die tak sedert 2018 weens kabeldiefstal om doeltreffende dienste te lewer. Dit het tot gevolg dat die tak gebrekkige internetverbinding het.

Die Pos het reeds in Julie 2017 berig dat dié tak sukkel om aansoeke te hanteer en dat die meeste aansoeke na Modimolle verwys moes word.

“Talle inwoners het nie betyds voor die registrasienaweek hul nuwe of tydelike ID-boekies ontvang nie en ander was genoodsaak om na Modimolle se binnelandse sake-kantoor te ry om gehelp te word,” het Smalle gesê.

“Dit is onaanvaarbaar dat die departement nie oor die afgelope vier maande hierdie dienste aan inwoners kon verskaf nie. Die departement het beloof om ons klagte indringend te ondersoek.”

Smalle het voorts beloof dat die DA kiesers sal bystaan in die proses om te registreer.

Luidens ’n verklaring van die nasionale verkiesingskommissie (OVK) kan kiesers steeds by hul naaste OVK-kantoor vir die verkiesing registreer.

Sodra die datum van die verkiesing bekend gemaak word, sal die kiesersrol gesluit word.

Related Articles

Back to top button