MunicipalNews

Modimolle is kniediep in die k … nyp!

“Ons het verskriklike foto’s ontvang van die pad by die slagpale waar bloed en diere-organe digby die Klein Nylrivier gevind is. Ons het ook gehoor dat die rioolaanleg weer nie behoorlik werk nie,”

Wie neem verantwoordelikheid vir die rioolgemors in Modimolle? Die stilte is oorverdowend.

Politieke partye, inwoners en sakelui het die afgelope week toegetree tot die stryd om weer ’n skoon Klein Nylrivier te sien.

Die Pos het verlede week breedvoerig berig oor die kwessie van die lekkende riool in Modimolle wat volgens ingeligte bronne reeds sedert 1995 voortsleep. Inwoners is hande in die hare omdat hul klagtes jaar na jaar op dowe ore val en die stank van riool by hul huise kommer oor gesondheid skep.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het op Maandag 21 Januarie die probleemgebiede besoek.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VryheidsFront Plus praat met John Koka, bestuurder van die slagpale. Koka het verduidelik dat dit nie net die slagpale se riool is wat in die pyp afspoel nie. Hy het gesê die rioollyn is die plaaslike munisipaliteit se verantwoordelikheid.

Riool vloei vanuit verskeie dreine na die rivier wat net enkele meter weg is. In die nywerheidsgebied stroom bloederige water vanaf mangate naby die slagpale in die pad af en sak ’n onuithoudbare stank gereeld oor ondernemings neer. Die sensitiewe bewaringsgebied Nylsvley is enkele kilometer stroomaf geleë.

Maritz het ná haar besoek ’n strafregtelike klag teen die waarnemende munisipale bestuurder, Mapule Makoko, gelê in terme van die nasionale wet op omgewingsbestuur. Makoko is aangekla in haar hoedanigheid as verantwoordelike beampte.

“Dit is haar plig om die saak verder te voer en hulp van die provinsie of die nasionale regering te vra om die probleem op te los. Die toestand van die riool is onaanvaarbaar. Dit moet nóú stop. Dit kan nie jaar na jaar sloer nie,” het Maritz gesê.

Sy is in kennis gestel dat die saak oorgeplaas sal word na die afdeling vir omgewingsbestuur in Pretoria.

John Koka, bestuurder van die slagpale, het gesê hoewel die blaam dikwels op die slagpale, wat onder die Waterberg-distriksmunisipaliteit val, geplaas word, is hulle slegs verantwoordelik vir dit wat op hul perseel gebeur. Die rioolpype is die verantwoordelikheid van die plaaslike munisipaliteit, het hy gesê.

Hy het Die Pos toegelaat om na die vetsiwwe te kyk. Dit was skoon. “Mense is onder ’n wanindruk. Ons verwerk nie veel vet nie. Ons ontvang die diere, slag die vel af en verwyder die binnegoed. Die karkas word dan in twee gesny. Die vet word in ’n krat reg onder die karkas geplaas, waarna dit in ’n plastieksak gegooi word. Die kliënt kry dit alles saam met die karkas terug. Indien hulle nie die binnegoed of die vet wil hê nie, verkoop ons dit aan smouse wat hier opdaag.

“Die pyplyn wat probleme gee, dra nie net ons riool nie. Riool van die AS Salaam-woonbuurt en Meatrite moet in dieselfde pyp afvloei en die kapasiteit is net nie groot genoeg nie,” het Koka gesê.

Tydens Die Pos se besoek was die slagpale nie in bedryf nie. Riool het steeds uit die dreingat gespoel en babadoeke, toiletpapier, sanitêre doekies en kondome was te sien.

“Dié tipe goed kom nie van die slagpale af nie, maar vanaf die woonbuurte,” het Koka gesê.

Die munisipaliteit het intussen ’n hoë drukspuit bekom om die rioolpype in die probleemgebiede skoon te spuit. Sand wat ná hewige reënbuie in die pype spoel, verminder die dravermoë om riool weg te voer.

Patrick Shika, woordvoerder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het bevestig dat die munisipaliteit in 2006 met die hulp van die departement van water en sanitasie die 110 mm – 160 mm-pyplyn met ’n groter 250 mm-pyplyn vervang het. ’n Pompstasie is ook in die nywerheidsgebied opgerig om die riool weg te pomp. “Ongelukkig het die pompstasie onder vandale deurgeloop en is die pompe gesteel. Die munisipaliteit moes weer noodgedwonge die ou pyplyn, wat te klein is, gebruik,” het hy gesê.

“Met die kleiner pyplyn het ons probleme met vet en olieneerslae van die nywerheidsgebied, met die slagpale en Meatrite as die grootste bydraers. Albei sê dat hul vetsiwwe in plek is, maar ons het nog steeds vet in die stelsel,” het Shika gesê.

Die rioolaanleg werk ook nie op volsterkte nie. “Ons het beplan om die rioolaanleg in die 2017/2018 en 2018/2019 finansiële jare op te gradeer. Diefstal en vandalisme is van ons groot kopsere.
Marlene van Staden, burgemeester, het onderneem om die saak met die distriksmunisipaliteit op te neem. Sy het gesê die munisipaliteit is toegewyd om kort- en langtermynoplossings te vind vir die probleme wat veroorsaak is deur jare van verwaarlosing deur vorige administrasies.

Van Staden het ’n gemeenskapsvergadering gereël vir Dinsdag 29 Januarie om dié probleme te bespreek.

Dit vind om 17:00 by Koro Creek-gholflandgoed plaas.

In die Vriende van Nylsvley-omsendbrief word kommer oor die probleem uitgespreek.

“Ons het verskriklike foto’s ontvang van die pad by die slagpale waar bloed en diere-organe digby die Klein Nylrivier gevind is. Ons het ook gehoor dat die rioolaanleg weer nie behoorlik werk nie,” het Marion Mengell van die organisasie geskryf.

Die belastingbetalersraad van Modimolle het op Dinsdag 22 Januarie ’n ontstellende video geplaas van helderrooi bloedwater wat laatmiddag die pad afgespoel het. Die video is ook op Die Pos se Facebookblad geplaas.

Related Articles

Back to top button