MunicipalNews

Geen einde aan stink rivierstorie

“Soms swem skoolkinders in hierdie water. Soms dryf hier dooie visse. Die rioolpyp se water stroom 24-uur per dag by die dam in. Ons het die munisipaliteit al telkemale geskakel.”

Dié kaart dui slegs enkele van die probleme reg langs die rivier aan. Volgens lesers is daar heelwat meer plekke waar riool die rivier in stroom.

 

‘n Riviertjie wat eens met die grote Egiptiese Nylrivier verwar is en genoeg lafenis aan die verdwaalde Jerusalemtrekkers gebied het dat hulle besluit het om hul op sy walle te vestig, verstik deesdae in riool en plastiek.

Die Pos het die afgelope week verskeie klagtes oor rioolprobleme ontvang. Daar word reeds etlike jare lank oor dié einste probleme berig, sonder dat daar enige oplossings daarvoor gevind word. Riool loop jaar in en jaar uit in die Klein Nylrivier in, wat deur die dorp kronkel voordat dit sy pad na die sensitiewe Nylsvley-bewaringsgebied vind.

Een van die klaers, Krappie Botes, sê dat die stank van riool dag en nag oor hul kompleks van 20 woonstelle hang. Die kompleks is op die oewer van die Klein Nylrivier geleë, maar pleks daarvan dat dit idillies is, het dit in ’n nagmerrie ontaard. “Daar is oral vlieë in die huis en ’n mens kan nie jou venster oopmaak nie weens die stank,” het sy gesê.

Bloederige water wat pad-af stroom is al jare lank ’n probleem in die nywerheidsgebied in Modimolle. Die mangate wat lek, is naby die abattoir geleë en val onder die Waterberg-distriksmunisipaliteit. Die vleigebied wat om die Klein Nylrivier lê, is ’n hanetree weg. Die onuithoudbare stank in die lug het sakelui warm onder die kraag.
Petro Hattingh sê hulle leef al jare lank met die riool in hul oprit in Paul Krugerstraat. Die probleem word nie opgelos nie en niemand steur hulle aan hul klag-tes nie. Dit het al meters ver tot teen hul huis opgestoot. “Ons is skaam om mense na ons huis toe te nooi, want die stank is net te erg,” sê sy.

In Joe Slovostraat, oorkant die Limpopo-laagwaterbrug wat jare lank onvoltooid lê, borrel ’n drein oor. Die toiletpapier-reste van vorige, groter oorstromings is in die veld te sien, enkele meter van die rivier af.

Botes se woonstel is reg oorkant die laagwaterbrug geleë. Waar ’n brug moet wees, staan net betonblokke in ’n dam stinkende water. ’n Pyp spuit rioolwater in die dam in.

“Soms swem skoolkinders in hierdie water. Soms dryf hier dooie visse. Die rioolpyp se water stroom 24-uur per dag by die dam in. Ons het die munisipaliteit al telkemale geskakel. Die werkers daag op en kyk, net om te verdwyn sonder dat daar enigsins iets aan die probleem gedoen word. Die riool het ’n ruk gelede so hoog in my buurman se erf opgestoot dat hulle ’n gat in die muur moes maak om dit uit die erf te kry,” het sy vertel.

’n Paar blokke verder staan Petro Hattingh voor haar huis in Paul Krugerstraat, ook langs die rivier. Daar is ’n “Te Koop”-bord teen die hek. Reg langs die oprit staan ’n oop drein waaruit die walglike inhoud riool sigbaar in ’n sloot reguit op die rivier, sowat 50 m ver, afpyl. Die stank hang só dik in die lug dat dit moeilik is om asem te haal.

Rioolprobleme is nie ’n nuutjie vir die Hattingh’s nie. In Desember 2016 het dit in hul erf tot teen hul voordeur opgestoot. “Ons moes dikwels met ons voertuig deur die gemors ry net om by ons huis uit te kom,” sê Hattingh. “Ons slaap nie snags nie, so erg is die stank. Ons is te skaam om mense na ons huis te nooi om te kom kuier.”

Enkele meter weg, reg teenaan die rivier, is nog ’n diep gat gevul met riool- en reënwater. ’n Veel kleiner gat is in Mei verlede jaar gegrawe om ’n lekkende rioolpyp te herstel. Die werk is glo nooit voltooi nie en die diep gat het al groter geword en die verbygaande teerpad weggekalwe.

In die nywerheidsgebied pomp bloederige water uit ’n drein naby die slagpale en stroom in die pad af. ’n Vleigebied om die rivier is enkele meter weg. Dié probleem duur al jare sonder enige verbetering of oplossings.

Die omgewingsprogram 50/50 het in Mei 2015 oor dié probleem berig, kort nadat ’n vragmotor 20 000 liter swaelsuur reg onder die dorpsdam se wal in die rivier gestort het toe dit omgeslaan het.

Die swaelsuur, ’n baie gevaarlike suur wat in onder meer batterye gebruik word, is met kalk behandel, maar ’n inwoner het sy kommer uitgespreek dat die uitwerking van dié storting dalk nou eers gesien kan word. “Die suur het op die bodem van die rivier gaan lê en dit is nou die eerste keer sedert die ongeluk dat ons behoorlike reën kry wat dit weer kan opklits,” het hy gesê. Hy wou anoniem bly.

Afriforum het in Februarie 2018 ’n strafregtelike klag van besoedeling teen O.P. Sebola, die destydse munisipale bestuurder gelê. Hy kon, volgens hulle, persoonlik verantwoordelik gehou word as die munisipaliteit se rekenpligtige beampte. Sebola se kontrak het intussen verstryk. “Die saak is aan die Groen Skerpioene oorhandig, maar het ’n stille dood gesterf,” het James van Zyl, voorsitter van die plaaslike Afriforum-tak gesê.

“Ek is net so gefrustreerd deur die aanhoudende probleme,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, gereageer. “Ek het simpatie met inwoners. Die amptenare wat verantwoordelik is om die werk te doen moet antwoorde gee. Daar was projekte in die verlede om van die probleme reg te stel, maar omdat daar geld in vorige jare wanbestee is, is van die projekte nooit eens begin nie,” het sy gesê. “Die DA vervul slegs ’n oorsigrol. Die amptenare is verantwoordelik om dié probleme op te los.”

Patrick Shika, munisipale woordvoerder, het geantwoord dat reën die rioolprobleme vererger. “Sand spoel in die pype in en blokkeer dit. Sodra dit reën, stoot die riool by die mangate uit. Ons is besig om te soek na ’n diensverskaffer wat die pype kan skoonblaas.”

Volgens hom is daar ’n ondersoek aan die gang nadat die vorige kontrakteur wat aan die Limpopo-laagwaterbrug gewerk het, die projek onvoltooid gelaat het. “Daar word ook gekyk na hoeveel reeds deur die vorige munisipaliteit aan die brug bestee is. Ons het weer fondse aangevra vir ’n munisipale infrastruktuurtoelaag om die projek te voltooi. Dit is belangrik dat die brug voltooi word,” het hy gesê.

Een van die probleme wat die munisipa-liteit kniehalter, blyk ’n ernstige tekort aan geld te wees wat hul verhoed om herstelwerk en opgraderings te doen.

“Ek bly baie naby aan een van die dreine wat soveel probleme gee. Dit is ’n groot frustrasie. Ek glo hoe vinniger ons die blokkasies in die dreine kan herstel, hoe minder sal die impak op die rivier wees,” het Thabang Selemela, afdelingshoof van waterdienste, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button