MunicipalNews

Geldsake en water onder loep by vergadering

Die raad van die Modimolle-Moogkophong-munisipaliteit het tydens ’n vergadering op Dinsdag 30 Oktober moeilike kwessies deurtrap.

Modimolle staar tans ’n waterkrisis in die gesig terwyl daar bewerings is dat miljoene rand verlore gaan weens onwettige elektrisiteitsverbruik. Boonop het die grasietydperk wat onlangs deur ’n hofbevel verleen is om skuldeisers (soos Eskom) te verhoed om stappe teen die munisipaliteit te doen, ten einde geloop.

Die 90 dae grasie wat die hooggeregshof in Polokwane in Junie aan die munisipaliteit toegestaan het, het op Donderdag 1 November verval. Die munisipaliteit het sy regspan opdrag gegee om weer só ’n hofbevel te probeer bekom. Teen druktyd hierdie week was dit nog nie afgehandel nie.

Raadslid Thinus Botha van die Vryheidsfront Plus het tydens die vergadering indringend verneem na die vordering om 900 gloeilampe in straatligte te vervang. Hy is deur ’n lid van die administrasie-afdeling verseker dat dit spoedig afgehandel sal word.

Johann Abrie, DA-raadslid, wou op sy beurt weet wanneer dissiplinêre stappe teen amptenare wat by korrupsie in die munisipaliteit betrek word, gedoen sal word. Die ouditeurgeneraal (OG) het in sy verslag gesê dat amptenare nie inligting wat versoek is, verskaf het nie en hulle daarom nie ’n oudit-opinie kon gee nie, het Abrie gesê. Die forensiese span wat deur die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) na die munisipaliteit gestuur is, het glo dieselfde probleem ondervind. Die raad het besluit om CoGHSTA tyd te gee om dringend ’n dissiplinêre komitee op die been te bring en spoedig ’n verslag hieroor op te stel.

Die vergadering is verdaag en op Donderdag 1 November voortgesit. Raadslede het op dié dag die goedkeuring van betalingsooreenkomste aan Eskom en Magalies Water bespreek. Albei hierdie skuldeisers het al vantevore kennis gegee dat dienste eersdaags opgeskort sal word. Dit kon afgeweer word ná onderhandelinge.

Die raad het nou besluit om nuwe afbetalingsooreenkomste met gunstiger rente-koerse met skuldeisers te beding.

Marlene van Staden, burgemeester, het benadruk dat die raad nie ’n ooreenkoms kan aangaan wat hulle weet nie volhoubaar is nie.

“Ons betaal Eskom gewoonlik R10 miljoen tot R12 miljoen per maand. Die rente op die uitstaande bedrag het die hoogte ingeskiet en is nou tussen R5 miljoen en R7 miljoen. Ons sal na verwagting tot R22 miljoen in die somermaande moet betaal en in die wintermaande R40 miljoen. Ons kan dit nie bekostig nie,” het Van Staden gesê.

Patrick Mashaba, ANC raadslid, het egter gesê dat die raad die afbetalingsooreenkomste moet aanvaar, anders sal die provinsie die raad ontbind.

Raadslid Klaas Mabunda, ook van die ANC, het op sy beurt gemeen dat CoGHSTA die verantwoordelikheid vir die besluit sal moet dra indien die ooreenkoms deur hul verteenwoordiger, die waarnemende munisipale be-stuurder Mapule Makoko, onderteken word. Makoko is deur CoGHSTA na Modimolle gesekondeer en dien as administrateur sedert die munisipaliteit ingevolge wetgewing onder sakeredding geplaas is.

Die raad het besluit dat drie bedrae van R10 miljoen (bo en behalwe die maandelikse bedrag) aan Eskom betaal word sodra die munisipaliteit die bykomende toelaag van die regering ontvang.

Die uitstaande R11 miljoen wat aan Maga-lies Water verskuldig is, sowel as die waterkrisis, was ook weer onder die loep. Volgens die hoof- finansiële beampte, Melusi Mhlan-ga, sal die munisipaliteit ander uitgawes moet inkort, maar watervoorsiening geniet voorkeur. Boorgate wat reeds bestaan, moet egter dringend toegerus word.

Die moontlike ooreenkoms met die Bela-Bela munisipaliteit om water aan Modimolle af te staan, is ook bespreek.

Die “buitensporige” hoë uitgawes wat voorgelê is vir waterprojekte in Modimolle, Mookgophong, Vaalwater en Roedtan is deur sommige raadslede bevraagteken wat daarop aangedring het om meer spesifieke inligting te kry voordat dié bedrae goedgekeur kan word.

Groot ontsteltenis het geheers toe syfers oor die voorafbetaalde elektrisiteitsmeters tydens die vergadering aan die lig gekom het. Volgens syfers wat deur CigiCell, wat die meters geïnstalleer het, voorgelê is, is daar vermoedelik 3 000 meters in die munisipale gebied waarmee gepeuter is en onwettig elektrisiteit verskaf. Dit beteken ’n geraamde verlies van sowat R1,2 miljoen per maand vir die munisipaliteit as die gemiddelde verbruik R400 per maand is.

Raadslede het gesê dat hulle gereeld klagtes ontvang oor meters wat nie werk nie en dit moontlik tot frustrasie kan lei en mense dan met die meters peuter. Oortreders kan boetes van duisende rand opgelê word.

Related Articles

Back to top button