MunicipalNews

Bevolking groei, maar geen nuwe damme word gebou

“Geen nuwe damme is die afgelope 25 jaar gebou nie ten spyte van die groeiende bevolking.”

Modimolle en Mookgophong het ’n dringende behoefte aan meer water.

Inwoners in dele van die dorp is al weke lank sonder lopende water. Die dorpsdam is leeg en die waterverskaffing van elders skiet ver te kort.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het vandeesweek in ’n mediaverklaring gesê die regering se grootmaat waterverskaffing aan die munisipaliteit is onvoldoende om in inwoners se behoeftes te voorsien.

Van Staden het gesê die grootmaatverskaffing van water is die verantwoordelikheid van die nasionale regering.

Sy het die departement van water en sanitasie gevra om die munisipaliteit te help om te beplan vir bykomende waterbronne,veral vir Vaalwater en Mookgophong.

“Daar is verskeie ingrypings nodig om die water aan te vul, insluitend die behoorlike onderhoud van ons damme, ’n einde aan die onwettige aflei van water vir damme, die verhoging van watervoorsiening van Magalies Water af en deur die benutting van ons boorgate.

“Intussen het die munisipaliteit 12 watertrokke voorsien wat water versprei wanneer daar onderbrekings is,” het sy geskryf. Die Syferfontein-kleimyn het ook 10 noodwatertenks geïnstalleer.
Van Staden het verder amptenare versoek om ’n skedule van wanneer water gerantsoeneer sal word, te voorsien.

“’n Projek om ’n nuwe suiweringsaanleg, pompstasie en pyplyn van die Klipvoordam in die Noordwes-provinsie te bou, is jare gelede al voorgestel en kan water aan die dorpe Ngobi, Moiletswane, Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong verskaf. Magalies Water het die departement van water en sanitasie versoek om geld vir die projek beskikbaar te maak, maar tot dusver was die befondsing onvoldoende,” lui die verklaring.

“Geen nuwe damme is die afgelope 25 jaar gebou nie ten spyte van die groeiende bevolking.

“Die gesloer van die nasionale departement van water en sanitasie is nie verbasend nie aangesien die ouditeur-generaal onlangs bevind het dat die departement die risiko loop om geldelik in duie te stort.”

Related Articles

Back to top button