MunicipalNews

Probleem by substasie laat Bela-Bela kragloos

’n Tegniese probleem is by die Bela-Bela-substasie ondervind.

Inwoners in die Bela-Bela-omgewing het die afgelope twee weke gereeld vir ’n paar uur lank kragonderbrekings ondervind weens swaar weer en ook omdat Eskom planne bekendgemaak het dat hulle instandhoudingswerk in die omgewing moet doen.

Die laaste groot kragonderbreking het tussen Maandag 8 Oktober en Dinsdag 9 Oktober plaasgevind nadat ’n tegniese probleem by die Bela-Bela-substasie ondervind is, het die munisipaliteit vroeër gesê. Dié substasie word deur Eskom onderhou.

’n Munisipale kennisgewing is verlede week versprei dat Eskom binnekort bykomende instandhoudingswerk sal doen en dat hulle op twee plekke twee transformators sal vervang.

Kragonderbrekings weens die instandhoudingswerk het op Dinsdag 16 Oktober begin en het die inwoners van die dorp, township, Roodepoort, Bospoort, Noodhulp en Rietfontein geraak.

Dié inwoners kan ook verdere kragonderbrekings op Donderdag 18 Oktober verwag, lui die verklaring.

Die twee ander datums wanneer Eskom-tegnici beoog om aan die transformators te werk, is op Maandag 22 Oktober en Woensdag 24 Oktober tussen 08:00 en 12:00.

Die geraakte omgewing sluit die Zwartkloof-, asook omliggende om-gewing in wat elektrisiteit direk van Eskom ontvang, lui die verklaring.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het gesê die munisipaliteit verwag geen ander kragonderbrekings buite hierdie tye nie.

“Ons is positief dat Eskom hul beplanning vooraf gedoen het en dat hulle by die tye sal hou.”

Die Bela-Bela-munisipaliteit het inwoners intussen om verskoning gevra vir die ongerief wat hulle ondervind het terwyl daar aan die transformators gewerk word.

Related Articles

Back to top button