MunicipalNews

Parlementslede kom hoor oor ingryping

Die probleme is nie net geldelik nie, maar ook sistemies en albei sal reggestel moet word voordat die munisipaliteit sal herstel.

’n Afvaardiging van die parlement het vandeesweek met raadslede, die provinsiale wetgewer en inwoners vergader om hul menings oor die sukses van die ingryping by die beleërde Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit te hoor.

Die vergadering het op Dinsdag 16 Oktober in die O.R. Tambo-raadsaal in Modimolle plaasgevind en is deur raadslede van politieke partye en verteenwoordigers van inwonersverenigings, vroue- en jeugorganisasies en sakelui bygewoon.

Die komitee, wat uit verskeie parlementslede bestaan, het ná voorleggings oor die stand van die ingryping volgens artikel 139(b) geluister na onder andere dr. Modjadji Malahlele (’n finansiële kenner van die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA). Jerry Ndou, die LUR vir CoGHSTA, en Rob Tooley, die LUR vir finansies, was ook teenwoordig.

Die munisipaliteit is in Mei vanjaar deur die provinsie onder administrasie geplaas om sy geldelike verknorsing te probeer stabiliseer weens groeiende skuld aan Eskom en sy onvermoë om sy werknemers in Januarie te betaal. Volgens wet moet die nasionale raad van provinsies binne 180 dae die ingryping by ’n munisipaliteit goedkeur of nie. Die komitee sal ná beraadslaging ’n besluit neem.

Malahlele van CoGHSTA het ’n voorlegging gelewer oor die hulp wat die departement aan die munisipaliteit verleen het en die huidige stand van sake.

Volgens haar is die probleme nie net geldelik nie, maar ook sistemies en albei sal reggestel moet word voordat die munisipaliteit sal herstel. Sy het gesê spanning ná die samesmelting van Modimolle en Mookgophong, swak bestuur van werknemers se verlof, die lae moraal van werknemers, die swak verhouding tussen die vorige munisipale bestuurder en die burgemeester, asook die geldelike krisis was van die probleme wat oorkom moes word.

Sy het gesê die munisipaliteit is tegnies bankrot en moet ’n hoë skuldlas van sowat R350 miljoen dra.

Die besteding van voorwaardelike toedelings van die regering is ook nie na wense bestee nie, wat toedelings in die toekoms sal raak. Malahlele het gesê hulle het tydens die ingryping op sleutelgebiede gefokus, soos om toegang deur die rekenaarstelsel tot sekere inligting te beperk en om skuldeisers te prioritiseer.

Die forensiese ondersoek, onder wakende oog van die nasionale tesourie, het volgens haar reeds sensitiewe sake blootgelê en hulle kry teenstand van sekere werknemers. Die ingrypingspan van vyf mense sluit drie finansiële kenners in, asook kundiges in inligtingstegnologie en menslike hulpbronne.

Verskeie komiteelede wou weet wie verantwoordelik gehou moet word vir die swak bestuur en geld wat verdwyn het. Die antwoord was dat die forensiese ondersoek lig hierop sou werp sodra dit afgehandel is.

Tooley het tydens sy spreekbeurt gesê hulle sal oorweeg om die munisipale raad te ontbind. Die nuus is deur die gehoor met luide handeklap begroet.

Parlementslid Simphiwe Mthimunye, voorsitter van die komitee, het gesê hy twyfel of Suid-Afrika reg is vir plaaslike regering omdat dit soveel keer faal. “Gedurende die apartheidstryd het mense onbaatsugtig gestry vir ’n beter toekoms vir ander sonder om vergoeding te verwag. Dit het verander. Raadslede moet hul weer toespits om hul mense te dien. Dit moet hier met ons politici begin om die munisipaliteit vorentoe te neem,” was sy skerp woorde aan die raadslede.

Marlene van Staden, burgemeester, het ná die vergadering gesê sy voel positief.

“Daar is goeie vordering. Ons het die afgelope paar maande reeds R40 miljoen se skuld afbetaal en CoGHSTA het ingestem om nog R70 miljoen aan ons beskikbaar te stel. Ons sal dus R110 miljoen se skuld kan delg. Dit gaan ’n baie groot verskil maak.”

Related Articles

Back to top button