MunicipalNews

Rioolstorting maak boere moedeloos

“Ons het al begin wonder of dit nie dalk sabotasie is nie.”

Boere in die Grootvallei-omgewing buite Mookgophong was vandeesweek warm onder die kraag nadat dit aan die lig gekom het dat rou riool vanaf die pompstasie direk in die naburige plase gepomp word.

Die rioolprobleem is al holrug gery en inwoners hoop dat die probleem spoedig opgelos kan word.

In ’n mediaverklaring op Dinsdag 9 Oktober het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, gesê die munisipaliteit is besig om aandag aan die probleem te gee. Sy het aan Die Pos gesê die die verstoppings word veroorsaak deur voorwerpe wat in die rioolpype gegooi word.

“Ons het al begin wonder of dit nie dalk sabotasie is nie. Voorwerpe soos bakstene, swartsakke, bourommel en selfs klere word in die pype gevind wat verstopping van die pompe veroorsaak,” het sy gesê.

Sy het ’n beroep gedoen op inwoners om nie sulke materiaal in die rioolstelsel te stort nie.

Van Staden het aan Die Pos gesê die rioolpomp is reeds op Vrydag 5 Oktober betaal en sou op Dinsdag 9 Oktober op die terrein wees sodat die rioolstorting teen Vrydag 12 Oktober opgelos kan wees.

Volgens haar sal inwoners op die hoogte gehou word van die vordering. Sy het gesê sy is bewus daarvan dat die rioolaanleg al vir meer as ’n dekade ’n probleem in Mookgophong is. Volgens haar is dit nooit genoegsaam deur die vorige bestuur van Mookgophong of die nasionale departement van water en sanitasie ondersoek nie.

Sedert die samesmelting van die munisipaliteite van Modimolle en Mookgophong is daar baie gesukkel om infrastruktuur op te gradeer weens jare se onderbesteding en swak instandhouding.

“Twee boorgate se pompe is op Vrydag 5 Oktober herstel en die waterkar word ook nou herstel. Ons probeer om twee nuwe pompe vir die Frikkie Geyserdam te bekom en ’n stroombreker vir boorgate 10 en 11,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button